AFO wen die internasionale CCC salon    -    Neels Jackson

 

       Afo se briljante fotograqwe het onlangs daarvoor gesorg dat die klub weggestap het met die eerste prys in die klubkompetisie in die internasionale Cross Continental Circuit Salon.

      Hierdie salon is ’n fotografiekompetisie met drie afdelings: Kleur, Mono en Beweging. Deelnemers kon in elke afdeling vier foto’s inskryf, en elke foto is dan in elkeen van die drie gasheerlande (Suid-Afrika, Duitsland en Indonesië) beoordeel. Met elke beoordeling kon die heel bestes dan ’n medalje wen, die naasbestes kon eervolle vermeldings kry (wat vergelykbaar is met merietetoekennings), en dan kon ’n foto wat goed genoeg was, ook ’n aanvaarding kry.

Twaalf van Afo se fotograwe het altesame 118 aanvaardings, 7 eervolle vermeldings en 3 medaljes op hierdie manier losgeslaan. Hulle is:

-     Christiaan Kotze (2 medaljes, 1 eervolle vermeling en 11 aanvaardings)

-     Johan Orton (1 medalje, 2 eervolle vermeldings en 15 aanvaardings)

-     Annette Ligthelm (2 eervolle vermeldings en 19 aanvaardings)

-     André Ligthelm (1 eervolle vermelding en 13 aanvaardings)

-     Dirk Heyns (1 eervolle vermelding en 9 aanvaardings)

-     Tania Cholwich (20 aanvaardings)

-     Koos Marais (7 aanvaardings)

-     Ona Ackermann (6 aanvaardings)

-     Ryno Eksteen (6 aanvaardings)

-     Hannes van den Berg (6 aanvaardings)

-     Arthur Ahrens (3 aanvaardings)

-     Ingrid Marais (3 aanvaardings)

          Daar word ook ’n Fiap Blue Pin toegeken aan die drie deelnemers wat onderskeidelik die meeste aanvaardings in elkeen van die drie deelnemende lande se salon verwerf het. Annette Ligthelm het met 11 aanvaardings die Fiap Blue Pin vir die Suid-Afrikaanse been van die salon gewen.

          Binne die salon is daar ’n verdere kompetisie. Daar word 3 punte toegeken vir elke medalje, 2 vir elke eervolle vermelding en 1 punt vir elke aanvaarding. Dan word daar gekyk hoeveel punte elke fotograaf in sy sterkste afdeling verdien het.

          So het Christiaan Kotze in die afdeling Beweging met 2 medaljes, 1 Eervolle vermelding en 6 aanvaardings altesame 14 punte ingeoes. Daarmee het hy die algehele derde plek in die salon ingepalm en daarvoor ook ’n medalje verower. Johan Orton het in die afdeling Beweging altesame 13 punte ingesamel, algeheel ’n gesamentlike vyfde plek verower en daarvoor nog ’n eervolle vermelding gekry.

          Om die beste klub te bepaal, word die punte van die beste ses fotograwe se beste afdelings bymekaar getel. Afo se span was:

-     Christiaan Kotze (14 punte in die affdeling Beweging)

-     Johan Orton (13 punte in Beweging)

-     Annette Ligthelm (10 punte in Kleur)

-     Tania Cholwich (8 punte in Kleur)

-     André Ligthelm (8 punte in Beweging)

-     Koos Marais (7 punte in Kleur)

          Hulle het vir Afo 60 punte aangeteken en die eerste plek daarmee vir die klub verower. Tweede was PSTC van Taiwan met 53 punte en derde Shanngtuf Inmage &Art Club van China.

          Sowat 1 200 deelmers van minstens 68 lande en gebiede het meer as 13 000 foto’s vir die salon ingeskryf.