Cor Rademeyer  APSSA

My belangstelling in fotografie het begin toe my Pa ‘n kamera gekoop het waarvan die lens gefokus moes word deur twee beelde opmekaar te sinkroniseer. Die afstand kon dan afgelees word. Dit het gefasineer. Op skool het ek ‘n Halina kamera gehad en sowat 2 skyfiefilms per jaar geneem! As student het ek swart en wit films ontwikkel en fotos gemaak in die badkamer van die koshuis. Na my studentejare het ek by AFO aangesluit. Die byeenkomste was by die Tegniese Kollege in Kerkstraat. Hier is ek ge-inspireer deur persone soos Koos Delport, Louis Knobel en Louis Marais wat aktiewe lede was. Ek het die voorreg gehad om saam met Louis Knobel en 4 ander persone in sentrale Kalahari in Botswana in te trek met ‘n bakkie, ‘n LandRover, 44 gallon drom water, rol wors en ‘n sak meel. Daar was geen kampe nie en ons het werklik in die veld geleef. Hier het ons fotos van troppe Rooihartebeeste, Springbokke en Leeus geneem en ook van Boesmans. My belangstelling in natuur fotografie het waarskynlik hier sy oorsprong. Ek het fotografie egter na 2 jaar gelos en my toegespits op verdere studie en navorsing in die Chemie veld. Gedurende 1990 het ek weer by AFO aangesluit. Ek het begin as Korrel beampte. Korrel is afgerol en saamgestel en dan gepos na die lede. Later was  ek redakteur. Gedurende hierdie tyd het my belangstelling in natuur fotografie verder ontwikkel na landskappe en  fauna. Talle besoek aan Namibia, die Kalahari, Botswana en Kenia het gevolg. Ek het ook ‘n donkerkamer ingerig en baie aangename ure daarin deurgebring. Weens my chemie agtergrond het ek baie ge-eksperimenteer. Die oordonderende reuk van fikseerder in donkerkamer sal my altyd bybly. Jare later met die aanvang van die digitale era en toe ek my donkerkamer tot niet moes maak, wou niemand die toerusting koop nie – niemand wou dit eers gratis gehad het nie!! Ek het ook ‘n belangstelling in makro fotografie ontwikkel want dit was ‘n manier om natuur fotografie in die onmiddelike omgewing te beoefen.

Ek het baie jare op AFO se bestuur gedien as onder- voorsitter en drie jaar as voorsitter. Die eerste salon in SA wat ‘n kleur brosjure uitgegee het was die 1996 AFO salon waarvan ek direkteur was. Tydens my tweede tydperk as voorsitter het die verspreiding van Korrel ‘n probleem begin word. Meer lede het begin om epos te geruik. Die bestuur het gevolglik besluit om Korrel in die vorm van ‘n epos te versprei. Dit was nie by alle lede nie gewild nie. Dit is jare later deur die webwerf en deesdae, Whatsup, gekomplimenteer. Deur die jare was ek ‘n gereelde beoordeelaar en aanbieder by ander fotografieklubs en salonne en betrokke by PSSA as Noord-Gauteng se Direkteur. Verder het ek saam met wonderlike persone op die bestuur van AFO gedien en vriende geword met baie lede. Van my beste vriende was AFO lede. In 2007 is die AFO Goue Diensmedalje aan my toegeken. In 2009 is Lewenslange Lidmaatskap aan my toegeken voor ons emmigrasie na Australia.