Dirk Heyns FPSSA DPSSA (v)

Ek is in 2011 deur Sybrand van Niekerk uitgenooi om ‘n AFO klubaand by te woon en vandat die eerste foto vertoon is, was ek gefassineer met klubfotografie.

 In die eerste salon waarin ek as junior fotograaf ingeskryf het het ek een salon aanvaarding gekry en was in die wolke daaroor. In die volgende 12 salonne het ek egter GEEN aanvaarding gekry nie vir die 75 fotos wat ek altesaam ingeskryf het nie!  Die kwaliteit van my fotos was gewoon nie goed genoeg nie, het ek geleer.

Ek het as klubfotograaf vir myself uitdagings gestel om betrokke te raak by salon inskrywings, by beoordeling op klubvlak en op salonvlak en by die verwerwing van honneurspanele. Ek het ook  sederdien ‘n fotografie diploma verwerf, want ek wou graag die tegniese aspekte van fotografie verstaan.

Toe ek nog ‘n onderwyser was het een van my leerlinge, Sebastiaan Rothmann, begin boks en ek het die geleentheid bygewoon as toeskouer toe hy ‘n paar jaar later die Suid-Afrikaanse kampioen geword het. Die opwinding van topatlete wat teen mekaar deelneem het my aangegryp.en as fotograaf het ek dus later ‘n geleentheid benut om ‘n bokstoernooi af te neem. Hoewel my eerste pogings maar vrot was, het ek voortdurend gepoog om my tegnieke te verbeter. Ek is reeds sowat agt jaar betrokke by die afneem van boks, skopboks en EFC (gemengde vegkuns) toernooie.

Ek hou egter ook van natuurfotografie (voëls en Makro), portretfotografie en straatfotografie en enigiets anders wat interessant is – soos toe van ons klublede die kans gekry het om slange af te neem!.

Aangehegte foto het ek nooit in enige kompetisie gebruik nie, want dit is nie ‘n goeie foto nie. Dit is egter ‘n uitklophou wat die verloorder in die hospital laat beland het waar sy drie weke later oorlede is sonder om haar bewussyn te herwin. Soms moet mens dus die konteks van ‘n foto verstaan voordat jy die storievertelling waarde van die foto kan waardeer. By ‘n klubaand of salon kry jy nie die geleentheid nie en kan jy dus nie so ‘n foto inskryf nie.

Eksperimentering met tegnieke is voortdurend nodig om te sien wat werk beter. By ‘n geleentheid waar ons gimnaste afgeneem het het ek eers met ‘n flash probeer, en toe dit nie werk nie, met beskikbare lig probeer. Dit het die agtergrond  donker laat vertoon en toe werk die foto skielik vir my.

Dit is wonderlik as jy dan na ‘n foto kyk en tevrede is! Jy kan dit seker vergelyk met ‘n golfer wat ‘n hole in one slaan!

03

02

01