Neels Jackson FPSSA

Ek het my eerste kamera gekoop in die 1980’s toe ek ’n student was en ek het dadelik van fotografie gehou. Dit was nog in die dae van films en dit was te duur vir my om dit voluit as stokperdjie te beoefen.

            Teen 2004 het digitale fotografie na vore begin kom en ek het ruimte op my begroting gehad om ’n Canon 300D te koop, kort daarna ook ’n 70-300mm lens, en Photoshop elements om my foto’s mee te versorg. In Januarie 2005 het ek vir die eerste keer ’n Afo-klubaand as besoeker bygewoon. My kop het gedraai van al die wonderlike foto’s wat ek gesien het en al die kommentaar wat soveel kennis oor fotografie oorgedra het. Die volgende maand het ek weer gaan kyk en Maart 2005 het ek my eerste foto’s by Afo ingeskryf. Die foto van die grootwaterhoender hieronder, was daardie aand die wenner van die eenstergroep.

            Daar het vir my ’n wêreld oopgegaan. Ek het gevoel soos ’n vis in die water en sedertdien is fotografie ’n groot deel van my lewe. Ek vertel met vreugde vir mense dat ek 95% van alles wat ek van fotografie weet, by en deur Afo geleer het.

            Ek het veral aan die begin gewerk met toerusting wat afgesteek het teen dié van ander klublede met wie ek meegeding het. Dit het my egter nie gekeer nie. Ek het eenvoudig gewerk binne die beperkings wat my toerusting my toegelaat het en redelik vinnig deur die stergroepe gevorder. Ek het ook van baie vroeg af aan salonne begin deelneem. In 2009 was ek Afo se digitale fotograaf van die jaar. Mettertyd het ek my toerusting uitgebrei en opgegradeer, maar ’n mens sal seker nooit regtig alles van die beste hê nie. Dit ontmoedig my egter nie. Ek werk met dit wat ek het.

            Aanvanklik het ek my veral toegelê op natuurfotografie, en spesifiek voëls, maar ek het altyd ’n wyer belangstelling ook gehad. In ’n stadium het ek vir myself ’n reël gemaak dat ek elke maand by die klubbyeenkoms ten minste een foto van ’n voël moet inskryf (om getrou te bly aan my wortels) maar ook ten minste een foto wat nie ’n natuurfoto is nie (om my horisonne te verbreed). So het my belangstellings en my vaardighede uitgebrei na dinge soos makro-fotografie, landskappe, ’n bietjie sport en meer. As joernalis het foto-joernalistiek my natuurlik ook altyd getrek, hoewel dit in klubverband dikwels iets anders is as in die praktyk. Die twee panele wat ek vir my APSSA- en FPSSA-toekennings ingedien het, was egter albei natuurpanele. Die foto’s hieronder van die vlinders en die rooivlerkstreepkoppie was deel van my APSSA-paneel. Die F-paneel was spesifiek ’n paneel van natuurportrette, ’n genre wat my verbeelding aangegryp het sedert ek die eerste keer daarmee kennis gemaak het. Die foto van die luiperd was deel van daardie paneel.

            Toe ek bevorder is na die stergroep Senior Meester Brons, het ek besluit om in dié stergroep net monochroom-foto’s in te skryf. Dit was ’n uitdaging aan myself om die medium van monochroom te probeer baasraak. Hieronder is ’n paar van my monochroomfoto’s. Een van hulle, Keeping up with Mommy, was een van die min foto’s waarmee ek nog ’n salon gewen het.

            As joernalis - in ’n mindere mate terwyl ek by Beeld was, veral in die vyf jaar dat ek redakteur van Kerkbode was, maar ook nou as vryskut - het my fotografie my handig te pas gekom. Ek verdien ’n klein bietjie inkomste daardeur, maar in wese is en bly ek ’n stokperdjiefotograaf. En dis vir my wonderlik dat my vrou, Louise, dit ook nou al sedert 2010 saam met my doen. Fotografie verskaf my verskriklik baie vreugde. Dit maak my lewe ryk. Ek verruil dit vir niks in die wêreld nie.

Keeping up with Mommy

Sonsopkoms oor savanna

Rooivlerkstreepkoppie

Omgee in aksie

Luiperdportret

Ligte ontbyt

Hang on

Duidelik in 'n ander klas

Augrabies ghost falls

Candle in the wind

Grootwaterhoender