Frits Thuynsma

Fotografie het vir my begin toe ek my pa se Kodak instamatic saam op die standerd 5 veldskool gevat het. Ek het vinnig geleer om die ou Yashica SLR te gebruik en het baie rugby en atletiek op skool afgeneem. Ons het self die films ontwikkel en afdrukke in die donkerkamer gemaak. Dit maak my seker bietjie “Old School”.

Ek beoefen fotografie as ‘n stokperdjie, maar dit is eintlik eerder ‘n manier om plekke wat ons besoek visueel te dokumenteer. Die ervaring om ou en nuwe plekke te besoek is vir my belangriker as die fotos en om hierdie ervarings met familie en vriende te deel is waaroor dit vir my gaan.

Spesiale foto’s saam met die ervarings maak dit natuurlik net soveel beter en landskappe het dus noodwendig die afdeling geword waarin ek belangstel en spesialiseer.

Ek glo daarin dat ‘n goeie foto begin met ‘n gevoel. ‘n Gevoel dat die plek waar ek nou is, spesiaal is vir my, ek moet lus wees om die plek af te neem. Ons het onlangs Dooievlei vir die tweede keer besoek en dit was soos die eerste keer ‘n onbeskryflike ervaring. Om sulke ervarings vas te vang is wat fotografie vir my maak en die rede hoekom ek dit doen.

Ek deel graag ‘n paar spesiale fotos met julle: