top of page
Groot Meester Diamant
NIEMAND, Hennie
FPSSA, DPSSA
My eerste blootstelling aan fotografie was in 1965 toe ek my militêre diensplig in Walvisbaai gedoen het. Ek het ‘n klein Zeis kamera gehad en die prys van die kleurskyfiefilm het die ontwikkeling ingesluit.
Ek en my seun Lukas het kunsaas gehengel vanaf ‘n boot en was verbaas hoe naby ons aan die watervoëls en diere wat kom drink, met die boot kon kom sonder dat dat hulle wegvlieg of weghardloop. Ons het toe besluit om fotografie vanaf die boot te beoefen. Ek het ‘n kamera, waarvan die ligmeter nog ‘n naald was, en ‘n baie goedkoop 500 mm lens aangeskaf. Die lens was gladnie geskik om pikswart of spierwit voorwerpe af te neem nie, omdat daar geen detail in die skyfies van die voorwerpe was nie.
‘n Kollega van my, wat ‘n lid van AFO was, het my en Lukas na een van die maandvergaderings uitgenooi. Ek was stomgeslaan en my mond het oopgehang van die skyfies van die AFO lede. Aan die einde van die tagtiger jare het ek en Lukas by AFO ons eeste skyfies vol verwagting ingeskryf. Ons is gou aarde toe gebring met ons albei se brons toekennings – die skyfies van die kormorante was oorbelig en nie heeltemal skerp nie. Ek het in my eerste jaar by AFO ontsettend baie geleer veral dat ‘n driepoot en gryskaart noodsaaklike hulpmiddels vir fotografie is. Groot was ons verbasing toe ons by die jaareindfunksie met die sertifikate vir beste beginner en intermediêre skyfies beloon is.
Ek het ‘n skuiling van skadudoek vir die boot gemaak en ons het ons toerusting opgegradeer na ‘n 2de handse Novoflex en ‘n kamera met ‘n motortjie wat die film aanskuif. In 1992 het ons albei ons meesterskildjies verwerf. Ek wou dat Lukas die vlak bereik voordat hy die skool verlaat. My dogter Karen was ook vir ‘n kort rukkie lid van AFO en het my skoonseun, Jaco Adendorff, by AFO ontmoet.
Die kleurskyfie era was ook die tydperk van montering in die karton Erie raampies (om te “crop”) en die finale montering in die antistatiese GEPE glasraampies, tesame met die frustrasie om al die stof van die skyfie te verwyder. Om nie praat van die frustrasie, van al die passasiers in die motor wat doodstil moes sit en amper nie asemhaal nie, as ‘n foto geneem word nie. Eers toe my kinders hulle tersiêre opleiding voltooi het kon ek dit bekostig om meer professionele toerusting aan te skaf.
In die jaar 2000 het Vaalkopdam naby Beestekraal, nadat die wal verhoog is, oorgeloop. Net die krone van die Haak-en-steekbome het bo die water uitgesteek en honderde verskillende watervoëls het op die krone nes gemaak. Ek kon met die boot baie naby aan die voëls kom en kon van hulle broei en hofmaakgedrag op film vaslê. Ek het van die skyfies ingestuur na die tydskrif Africa Birds & Birding en in die Julie 2000 uitgawe (vol 5, no 3) is my fotos geplaas in ‘n artikel “Life in a Heronry” met die teks geskryf deur Warwick Tarboton.
Naby die einde van die kleurskyfie era het ek vir my ‘n tweedehandse Jobo konstante temperatuurbad mer bybehore aangeskaf, bulk skyfiefilm aangekoop en my eie kleurskyfies ontwikkel. Wat hiertoe aanleiding gegee het was dat menigte van my vakansies gëeindig het met al my skyfies onbruikbaar as gevolg van ‘n geel skynsel (omdat die kommersiële laboratorium se chemikalieë oud was) of totaal donker was (omdat die ontwikkelaar nie my instruksies nagevolg het om die film ontwikkeling met een stop te stoot nie).
Ek het eenkeer op die boot op die Hartbeespoortdam gesit en wag dat die bloureiers na die nes met kuikens terugkeer. Toe ek omdraai op my stoel om ‘n toebroodjie uit my kosbliik te haal, hoor ek die geluid wat my yskoud gemaak het. My 300 mm 2.8 lens wat ek met ‘n lening op my huisverband gekoop het, is oorboord met driepoot en al. Met my eerste duikprobeerslag kon ek sien waar die lens op die bodem lê. Eers met die 2de duikpoging kon ek die lens en driepoot na die boot bring deur myself aan die ankertou op te trek. Ek het dadelik vir Henry by Radiolens gebel en hy het my na iemand verwys wat die lens en kamera vining drooggemaak het. Byde die lens en kamera se elektronika was waterdig verseël. Die kamera was so goed soos nuut nadat van die meganiese onderdele vervang is en Canon SA het die algvlekke van die optiese elemente verwyder en die lens weer gekallibreer. Een van die AFO lede het agterna vir my gesê dat hy verneem dat ek nou ook onderwaterfotografie doen.
Uit die aard van my werk as chemiese ingenieur was my fotografie beperk tot enkele naweke en vakansies. Ek en my vrou Tootjie het net gekamp, eers in ‘n tent en later in ‘n boskaravaan. Ons vakansies was of in die bos of by die see. My geliefde bosvakansies is die Kgalagadi, Etosha en Hwange. Die gevolg was dat ek in natuurfotografie gespesialiseer het.
Ek het ook al ‘n paar benoude oomblikke tydens ons kampering in die bos beleef. Met my eerste kamp by Rooiputs in die Kgalagadi het leeus een nag skielik hier langs ons tent (waarvan die deurvlap se ritssluiter stukkend was) kom brul. Ons het op matrassies op die grand geslaap en kon duidelik die dril van die sandgrond voel.
Onlangs by een van die kampe van Mabuasehube in die Kgalagadi was ek die oggend vroeg besig om koffie te maak toe ek iets hoor waterdrink uit die voëltjie se waterbakkie so 8 meter agter my. Toe ek omdraai sien ek die leeuwyfie wat ek gladnie gehoor het toe sy nadergekom het nie. Sy het die aand weer kom water drink en toe by die koppenent van ons bed kom lê en ons tot na middernag wakker gehou met haar gebrul.
Gevlekte hienas het ook al van my my tenttoue by Polentswa in die nag kom afkou en in Hwange ons wasgoed van die draad afgepluk en weggedra. Ons het dit die volgende oggend by die kamp se lyndraad bymekaargemaak.
Ons het eenkeer by Mana Poele met 2 man tentjies onder ‘n boom gekamp toe ‘n olifanttrop besluit dat hulle van die boom se blare hou. Die worderlike van die groot diere is dat hulle nie een van die tene of tenttoue raakgetrap het nie.
Van my onvergeetlike belewenisse is as jy in die nag in die Namibwoesten buite jou tent staan en die hemelruim is vanaf die horison gevul is met sterre en met die melkweg vol pienk, pers en oranje sterrewolke; of as die nagloed van die son die water van die Karibameer verander van skakerings van geel, oranje en dieprooi met die honderde wit stamme van die dooie bome afgeêts teen die kleure van die water; of by Kariba die wimpelvlerknaguile teen skemer tussen die hoë mopaniebome deur sweef; of as jy in die Haroni-Rusitu laagland woud suid van die Chimanimani berge kamp en honderde woudvoëls se sang jou in die oggend wakker maak. Daar was meer as 300 voëlspesies in hierdie woud.
Die digitale kameras en lens met beeldstabilisering het ‘n nuwe fotografiese wêreld vir my oopgemaak.
Ek is diep en innig dankbaar vir alles wat ek oor fotografie by AFO geleer het en steeds leer.
My fotografie is een van my geliefde stokperdjies (die ander is kuns – water en olieverf).
Ek probeer ook om in die Potchefstroom met sy koue winters ‘n inheemse tuin te vestig en maak ook tyd om in die lente in die Vaalrivier te vlieghengel vir geelvis.
Widget Didn’t Load
Check your internet and refresh this page.
If that doesn’t work, contact us.
bottom of page