Hannes van den Berg

My belangstelling in fotografie het begin in die laerskool waar ek gereeld gaan kyk het hoe my oupa foto's ontwikkel in die donkerkamer.  Hy het 'n drukkery gehad wat jaarblaaie vir skole, advertensies vir besighede en troukaartjies gedruk het.  Die hele proses was vir my baie interessant.  Op hoërskool het ek my eerste kamera gekry, 'n Kodak Brownie Target Six-16 swart-en-wit film bokskamera. 

My universiteitsjare was baie besig en fotografie was op die agtergrond.  Na my diensplig het ek begin werk en vir my 'n 8mm video kamera aangeskaf.  Ek het baie video geneem, veral natuurlewe en voëls.  Ek het ook trouvideo's geneem en verwerk, meestal vir familie en vriende.  Digitale kamera's het begin bekend raak en ek het vir my 'n goeie Sony model aangeskaf.  As gretige voëlkyker, het ek 'n kamera gesoek met voldoende zoom en natuurlik binne my begroting.  Digitale sensor tegnologie was daardie tyd nog in sy kinderskoene en ek sou nog ‘n paar keer opgradeer.

In 2011 koop ek my eerste DSLR kamera.  Dit was 'n Canon 550D.  In 2012 word ek deur Frits Thuynsma uitgenooi om 'n AFO klubaand by te woon en sluit ek toe aan by AFO.  Dis hier, tussen ander mede-fotograwe en vriende, waar ek baie geleer het van fotografie en vandag nog steeds leer.  In 2013 word ek deel van AFO se bestuur waar ek saam met Frits betrokke en verantwoordelik is vir die Punte, Projeksie en Kompetisies portefeulje.  Ek is nog steeds betrokke en geniet die klubwerksaamhede.  Ek is ook ‘n lid van PSSA. 

Ek neem gereeld aan nasionale en internasionale salonne/kompetisies deel en het al baie aanvaardings by salonne verwerf asook 'n hele aantal COM's.  Medaljes was my egter nog nie beskore nie.  In 2017 verwerf ek my LPSSA eretitel by PSSA.  Verder is ek ook deel van 'n AFO Helpmekaargroep waar ons mekaar se foto's beoordeel en sinvolle kommentaar gee en voorstelle maak om dit te verbeter.  Dit is 'n goeie leerskool en ook 'n geleentheid om idees uit te ruil.  Oor die jare het ek my kamera toerusting en lense opgegradeer om my fotografie aan te vul.

My voorkeur is om natuur en voëls af te neem, veral voëls.  Maar terselftertyd geniet ek ook die ander genres van fotografie.  Ek het al baie foto's by lugskoue geneem.  Makro fotografie is ook vir my baie lekker.  Ek geniet die insekte.  Verskeie sportsoorte al afgeneem, atletiek, roei, polo, pluimbal en dis ook vir my lekker.  Ek neem ook graag landskappe af wanneer ek die geleentheid kry.  Portret fotografie geniet ek ook maar verkies natuurlike lig.

Dit is lekker om jouself te kan meet teenoor ander met kompetisie deelname maar eintlik gaan dit vir my daaroor om fotografie as ‘n stokperdjie te geniet en die mooi oomblikke en tonele vas te vang in 'n foto.  En dan is dit ook lekker om hierdie passie met ander fotograwe te deel.  Dit is my storie en ek deel graag ‘n paar foto’s.