In Memorian

Jaarprogram

Japie van Zyl.JPG

In herinnering aan Japie van Zyl

 

 Dit is met groot hartseer dat ons by Afo kennis geneem het van die dood van Japie van Zyl, een van die klub se aktiewe lede. 

          Ons het vir Japie geken as ’n fotograaf, dit wil sê iemand met ’n sin vir skoonheid, iemand wat met die mooie werk, wat mooi onderwerpe op ’n mooi manier in beeld vaslê. Dit is ’n vaardigheid wat Japie by Afo ontwikkel het en waarin ons kon sien hoedat hy groei. 

            Een van die genres waarin hy hom onderskei het, was dié van stillewes: ’n Bybel en ’n kers, ’n teestel en ’n blom, blikke met olyfolie. Japie kon die mooiste foto’s maak uit sulke items. Daarom, toe hy ’n paneel foto’s voorgelê het waarmee hy in Januarie 2021 die eretitel LPSSA by die Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika verwerf het, was die helfte van die foto’s in die paneel stillewes. 

            Die laaste klubbyeenkoms waaraan Japie deelgeneem het, was dié van 5 Julie 2021. Daar het hy drie goue toekennings verwerf: twee in die afdeling vir landskappe en een in die piktoriale afdeling. Hy was ’n vyfsterfotograaf in die volle sin van die woord. As dit nie was dat Covid-19 hom van ons weggesteel het nie, sou hy waarskynlik vanjaar nog ’n meesterfotograaf geword het.

            Afo sal vir Japie van Zyl mis.

            Skrywer: Neels Jackson

Madelene.JPG

HULDEBLYK AAN MADELENE KRUGER

 

My liewe vriendin, nooit sou ek kon droom dat ek eendag vir jou ’n huldeblyk sou skryf nie, dat so ’n groot hartseer en eer my tegelykertyd te beurt sou val nie.

 

Ons het meer as 15 jaar gelede by AFO Fotografieklub ontmoet en net dadelik gekliek.  Nie lank nie of ek en jy was saam op die bestuur en het ons nie lekker saamgewerk nie, ek met my linkerbrein en jy met jou regterbrein.  Ons het ’n goeie span gemaak, salonne gereël, ander ouens met hulle salonne gehelp, fotografieaande gehou, selfs ’n streekskongres.

 

Soms het jy Johannesburg toe gery en by my kom kuier en ander kere was ek weer by julle huis waar ek jou liewe ma, Betsie, leer ken en liefkry het.  Jou sagte stem en rustige benadering het jy sekerlik by haar gekry.  Jou passie vir mooi goed is nie net duidelik in die pragtige foto’s wat jy geneem het, jou juwelewerk en naaldwerk wat jy gedoen het nie, maar veral in die huis wat jy gemaak het vir Willie en die kinders.  Deur net na die foto’s teen die mure te kyk, kan mens sien hoe ’n liefdevolle huis en familie dit is.  Dis wat jy ook uitgestraal het.

 

Toe die kanker kom, in 2011, het jy my gebel net toe ek by die tandarts uitstap, ek onthou dit soos gister, want my mond was dood en ek het gesukkel om lekker te praat.  Jy het die diagnose en wat daarop gevolg het so waardig gedra, jou nooit laat onderkry nie en was begeesterd oor die lewe soos altyd, jou geloof sterk soos altyd. Ons het saamgelag oor die pruike wat warm was en jou kop laat jeuk het en waarvan jy glad nie gehou het nie. Toe jou eie hare uitgroei, toe lag ons weer lekker saam, want dit was soos iemand anders se hare en dit het jy so aanvaar totdat jou hare weer mooi geword het. Intussen het Magda van AFO ook deelgeword van ons kuiers en so het die 3 M’s whatsapp groepie ontstaan waarop ons mekaar op hoogte gehou het.

 

Op 3 Julie het jy laat weet die kankertelling het weer opgeskiet.  Jy het gesê jy voel baie sleg van die medikasie, maar jy is elke oggend vars met nuwe krag!  Jy voel hoe God jou elke dag in sy genade dra. Op 16 Julie kuier ek en jy saam in ’n restaurant en jy sê jy is moeg. Op 14 Augustus langs jou stoel by die chemo in die Wilgers kom ons ooreen om nog fotoboeke van die kinders te maak.  Op 20 Augustus langs jou bed by die huis het ek vir jou gesê ek is lief vir jou en jy kon vir my ’n glimlag maak.  Wat ’n kosbare skat vir my! 

 

Op 23 Augustus het die engele jou kom haal en ek is seker jy het toe ook breed geglimlag.  Rus sag, my liewe vriendin, tot ons mekaar weer sien.

Skrywer: Melanie Loubser