Ontstaan en Geskiedenis van AFO
AFO is gedurende 1953 in Pretoria gestig weens 'n behoefte aan die soort organisasie. Sedertdien het dit 'n fotografiese tuiste vir menigte fotograwe geword. AFO is meer as bloot 'n groep fotograwe. Die vriendskappe wat oor die jare ontstaan het, die skepping van fotografiese loopbane van 'n aantal persone, die stand van AFO in die groter fotografiese gemeenskap in Suid-Afrika en die prestasies getuig daarvan. Dit is dus van pas om die ontstaan en geskiedenis van AFO op te teken. Hier volg twee artikels deur twee prominente AFO lede.
'n Kort reis op die lang pad van AFO sedert 18 April 1953 deur Koos Delport
Koos Delport is 'n ere-lid van AFO. Koos het sedert die beginjare van AFO 'n reuse rol gespeel om die aard en karakter van AFO te bou soos dit vandag is. Hy het 'n leidende rol gespeel om die aard van natuurfotografie te definieer en het baie van ons die fyner kuns van die kuns geleer. Sy beelde is uitstekend en Koos het tot by verre grense menigte toekennings verwerf en respek afgedwing. - Webmeester

Gedurende die vroeë vyftigerjare was daar 'n sterk behoefte in Pretoria vir 'n fotografie vereniging van Afrikaanse amateurfotograwe. Op 18 April 1953 het Mnre. J.S. Enslin, A.P. Snyman, ene Mnr. Botha en nog 'n vierde persoon saam met Mnr. Andries de Witt, 'n beroepsfotograaf, bymekaargekom en 'n vereniging gestig wat hulle die Afrikaanse Fotografiese Organisasie (AFO) genoem het.
Vergaderings is maandeliks in Andries de Witt se ateljee gehou en die belangstelling het maandeliks toegeneem. Gedurende 1954 word die maandelikse vergaderplek verskuif na die Pretoriase Kollege vir Gevorderde Tegnies Onderwys. 'n Grondwet is opgestel en aangeneem met Louis Nel as voorsitter. In April 1954 verskyn die eerste maandelikse nuusbrief, wat die voorloper van die Korrel maandblad was totdat die AFO webwerf dit in 2005 vervang het.
In die begin is daar hoofsaaklik op monochroom afdrukke gekonsentreer, maar later is besluit om elke derde maand aan kleurfotografie te wy. In Julie 1956 verskyn die eerste uitgawe van die Korrel maandblad. Deon van der Westhuizen ontwerp die AFO-wapen, wat vandag nog gebruik word. Die moderne weergawe is deur Hein Waschefort gedoen. Die eerste jaareindfunksie en jaareindkompetisie vind plaas.
In 1957 wen AFO vir die eerste keer die beker in 'n Interklubkompetisie vir klubs wat met die Johannesburg Camera Club geaffilieer is.
In 1958 word ‘n skyfiereeks onder leiding van Louis Nel oor AFO se aktiwiteite saamgestel en na Dunedin Camera Club in Nieu-Seeland gestuur waar dit die hele land deurreis en baie belangstelling gewek het. Gedurende 1959 word 'n dameslid vir die eerste keer tot die bestuur verkies.
In 1960 word 'n afdrukreekse-kompetisie vir die eerste keer ingestel.
Gedurende 1961 word 'n wedstryd vir 'n skyfiereeks die eerste keer ingestel en in 1962 word 'n "Veterane-groep" ingestel, die voorloper van die huidige "Meesters-groep". Die eerste metaal lapelwapens word gedruk en aan die lede verkoop. Gedurende 1963 word 'n dameslid vir die eerste keer na die bevorderingsgroep bevorder. In 1964 word die "Veterane-groep" se benaming word verander na die huidige "Meestersgroep".
In 1967 word ‘n skyfiereeks oor Natuurfotografie saamgestel met 'n klankbaan in Afrikaans en Engels en aan die reeksversameling van PSSA geskenk. In 1968 is Piet Odendaal die eerste AFO-lid om sy APSSA te verwerf. In 1969 word 'n kleurskyfiereeks van Cliff Lewis aangeneem by 'n internasionale uitstalling van reekse, die eerste in AFO se geskiedenis.
In 1970, die "Waterjaar" wen AFO die PSSA se Interklubkompetisie van skyfiereekse by die Kongres gehou in Kaapstad. Gedurende die jaar styg die ledetal die eerste keer tot meer as 100 naamlik 105. Louis Marais skenk twintig "Meesterskilde" wat aan AFO se Meesters toegeken word en wat vandag nog die gebruik is as ‘n lid ‘n Meester word. Die eerste Pretoriase Internasionale Uitstalling van Fotografie vind in 1971 plaas en twee AFO-lede tree as beoordelaars op.
Die hoogtepunt gedurende 1974 was die viering van AFO se 21ste verjaardag gedurende Mei-maand. Verskeie oud-lede, oud-bestuurslede en ander amptenare woon die funksie by. In 1975 vind die PSSA-kongres in Pretoria plaas. Dit is ook PSSA se 21ste verjaardagkongres is. AFO se voorsitter tree as voorsitter van die reëlingskomitee op. Gedurende die jaareinddinee van 1976 word 'n voorsitterstoekenning vir die eerste keer gemaak en wel aan Koos Delport.
In 1977 word die ligkas as metode van beoordeling in Pretoria ingebruik gestel en AFO maak ook daarvan gebruik. Die stelsel word tans nog met sukses gebruik. Die hoogtepunt vir 1977 was AFO se oorwinning in die Nasionale Fuji Interklubkompetisie, 'n prestasie waarop ons baie trots is. Die eerste AFO-diensmedalje ('n goue medalje) word aan Louis Marais toegeken vir sy lang en getroue diens aan die klub in besonder en aan fotografie in die algemeen. PSSA"infinity" dasse word aan nege AFO-lede toegeken vir uitstaande en volgehoue prestasies in fotografie.
DIE VOORTGESETTE REIS VAN AFO: 1977 TOT 2026 deur André Ligthelm FPSSA, EPSSA
Andre Ligthelm is een van die mees senior lede van AFO wat 'n groot bydrae tot die aard en prestasies van AFO gemaak het. Andre se lidmaatskap van 43 jaar, waarvan 12 jaar op die AFO bestuur, het die agtergrond en insig gebied vir die skrywe van hierdie artikel. As prominente natuurfotograaf het hy 'n leidende rol gespeel om die aard van natuurfotografie in AFO daar te stel en relevant te hou. Andre se uitstekende natuur foto's word hoog waardeer deur elke lid - Webmeester

Erkenning: Baie dankie aan Annette, wat ook as fotograaf vir die afgelope 22 jaar, hierdie reis saam met my mee gemaak het en veel tot die inhoud en “onthou” vir hierdie artikel kon bydra. Tersefdertyd, ook my groot waardering aan Cor Rademeyer, die huidige AFO-webmeester, wat ook ’n gewaardeerde AFO vriend is en wat ook veel kon bydra - Andre Ligthelm
1. INLEIDING
AFO is net meer as 73 jaar gelede in April 1953 gestig met die primêre doel om amateur en kompeterende fotografie in Pretoria te bevorder. Die ontstaan en aktiwiteite gedurende die eerste ongeveer 25 jaar van AFO se reis word kortliks in die artikel hierbo deur Koos Delport (‘n vorige voorsitter van AFO) beskryf. Dit is van pas om net voor die viering van AFO se 75ste bestaansjaar, die verdere ongeveer 50 jaar van AFO se geskiedenis kortliks in oënskou te neem vir ‘n volledige perspektief op die rol en bydrae wat AFO gespeel het. AFO het ook oor die jare vir talle van sy lede ‘n fotografiese tuiste gebied wat dikwels ‘n betekenisvolle deel van hul lewens geword het. Besluite oor vakansiereise en -bestemmings, aanwending van vrye tyd en selfs bestedingsprioriteite (veral na die toetrede van digitale fotografie) is dikwels deur AFO bedrywighede beïnvloed.
2. AFO EN DIE FOTOGRAFIESE VERENIGING VAN SUID-AFRIKA - FVSA (PSSA - Photograghic Society of South Africa)
Weens die feit dat AFO gestig is voor die ontstaan van FVSA in 1954, en ook in die lig van die betekenisvolle rol wat FVSA in Suid-Afrika se fotografiese landskap speel, is dit noodsaaklik om kortliks op die AFO:FVSA verhouding te let.
Die eerste amateur fotografiese vereniging is reeds in Mei 1890 in Kimberley gestig en is kort daarna gevolg deur die stigting van ‘n tweede fotografiese vereniging in Kaapstad in Oktober 1890. Teen 1900 het daar reeds elf sodanige verenigings bestaan. In 1954 het die getal reeds op 26 te staan gekom. Al hierdie fotografiese verenigings of klubs het onafhanklik van mekaar gefunksioneer met geen oorhoofse organisasie of gemeenskaplik gedefinieërde standaarde, definisies of reëls nie. Die noodsaaklikheid om te standardiseer in ‘n kompeterende fotografiese omgewing het gelei tot ‘n stigtingskongres in Durban in 1954 waartydens FVSA (PSSA) totstand gekom het (Bron: PSSA webblad).
AFO het in 1955 as lid by FVSA aangesluit en was dus deel van die proses wat sou verseker dat die hoogste etiese en artistiese standaarde in fotografie in Suid-Afrika toegepas word.
3. TRANSFORMASIE VAN FILM NA DIGITALE FOTOGRAFIE
Die oorgang van (1) filmfotografie (skyfies en afdrukke) asook papier gebaseerde kommunikasie na (2) die moderne digitale era waar digitale images en webtuistes/e-pos kommunikasie aan die orde is, was sonder twyfel die mees drastiese verandering wat in ons fotografie stokperdjie/belangsteling plaasgevind het. Hierdie bepalende transformasie het in ‘n periode van slegs ongeveer twee tot drie jaar (2006 – 2008) plaasgevind. Enkele opmerkings in die verband wat AFO direk geraak het, sal kortliks aangeraak word.
3.1 Kommunikasie
Kommunikasie in AFO het tot 2006 deur AFO se maandblad “Korrel” plaasgevind. Die inhoud was taamlik omvattend en het benewens die maand se beoordelingsresultate, ‘n skrywe van die voorsitter, maandelikse aktiwiteite soos uitstappies en opleidingsessies en ander sake van belang ingesluit. Dit was in A5-formaat met ‘n gekleurde afbeelding van die AFO-wapen op die voorblad. ‘n Afbeelding van die wapen verskyn tans nog op die openingsblad van AFO se webtuiste.
Alhoewel die “Korrel” in geheel getik moes word, is dit konsekwent in die week waarin AFO se maandelikse vergadering plaasgevind het, aan alle AFO-lede per landpos uitgestuur.
Die publikasie van ”Korrel” is aan die einde van 2006 gestaak en met ‘n maandelikse e-pos aan alle AFO-lede vervang. In 2007 is die AFO-webblad ontwerp en dien tans as voorkeur kommunikasie medium in AFO. Die AFO-webblad het in 2007 ‘n silwer toekenning van SAWA (South African Web Awards) ontvang vir onder andere sy ontwerp en funksionaliteit.
3.2 Inskrywing en verwerking van beelde (skyfies, afdrukke en digitale images)
Tydens die film-era was daar, wat skyfies betref, feitlik geen verwerking van beelde ter voorbereiding van inskrywings by AFO maandvergaderings of salonne nie. Slegs twee aspekte het aandag ontvang. Die eerste was die keuse van die grootte van die erie-raampie waardeur sekere gedeeltes van ‘n skyfie uitgemaskeer kon word met die doel om ‘n meer optimale komposisie te skep. Daar was ‘n keuse tussen agt verskillende erie-raampies (in terme van grootte) wat deur AFO van die VSA verkry is. Die maskering van skyfies deur erie-raampies was ‘n standaard praktyk wat in alle fotografiese klubs in Suid-Afrika en oor die wêreld gebruik was. Die tweede was die montering van die skyfie met sy gekose erie-raampie in ‘n glasmontering. Hierdie werklikheid beklemtoon die feit dat die neem van ‘n skyfie die begin en einde van ‘n wenfoto in filmfotografie was. Daar was geen ruimte vir enige ander verbetering/manipulasie van byvoorbeeld kleur, fokus of beligting van ‘n beeld nie.
In teenstelling met die beginjare van AFO, waar daar hoofsaaklik op monochroom en later ook op kleurafdrukke (wat ‘n mate van ontwikkeling/verbetering van ‘n beeld toelaat) gekonsentreer was, het die deelname toenemend na skyfies verskuif. Met die aanvang van die digitale era, was daar slegs ‘n klein persentasie van AFO-lede wat afdrukke gemaak het.
Op ‘n AFO-bestuursvergadering in Februarie 2008 is eenparig besluit om die afdeling vir kleurskyfies te staak en slegs met die volgende drie afdelings voort te gaan, naamlik digitaal geprojekteerde beelde, monochroomafdrukke en kleurafdrukke. Laasgenoemde twee afdelings het ook mettertyd in AFO in onbruik verval.
3.3 AFO Salonaanbiedings
AFO het deur die jare baie gereeld salonne met groot sukses aangebied. Die frekwensie van salonne was, weens logistiese redes, baie laag voor die digitale era. Alle kommunikasie en saloninskrywings en -terugsendings het per geregistreerde pos plaasgevind. Die gemiddelde duur van ‘n salon vanaf die uitsending van brosjures tot die terugsendings van uitslae, medaljes en inskrywings het gewoonlik tussen vyf tot sewe maande geduur. Weens dié tydsverloop van ‘n salon in die landpos-era kon ‘n enkele beeld maksimaal slegs twee keer per jaar vir saloninskrywings gebruik word.
Met die aanvang van die digitale era in die omgewing van 2006/2007, was AFO baie aktief met salonaanbiedings. Vanaf die aanbieding van AFO se 60 jaar Gedenksalon in 2014 het AFO nege salonne aangebied. In die sewe jaar periode van 2019 tot 2026 was AFO verantwoordelik vir die aanbieding van sewe salonne – een elke jaar. Hierdie groot prestasie is net moontlik met ‘n gemotiveerde en kundige span onder leiding van Dirk Heyns.
4. AFO LEDETAL
Die ledetal van AFO het oor die jare bly styg, maar die laaste paar jaar ‘n afname begin toon. In 1970 het die ledetal vir die eerste keer tot meer as 100 gestyg. Die getal lede het in 2007 tot 145 gegroei en vir die grootste deel van die eerste dekade van die 2000’s net onder die vlak gestabiliseer. Ongeveer 9% (12 persone) van die 2007 lede is tans (2026), na bykans 20 jaar, nog lede van AFO. Die ledetal staan tans (Junie 2026) op 71 lede.
5. VERGADERLOKALE
Die AFO maandelikse vergaderings is vanaf 1954 tot die begin van die 1980’s by die Pretoria Tegniese Kollege (tans die Tshwane University of Technology), in Kerkstraat in die middestad van Pretoria gehou. Daarna het dit verskuif na die Ingenieursgebou op die Kampus van die Universiteit van Pretoria (UP). Ongeveer 1993 het die Ingenieurs Departement van UP ons in kennis gestel dat die lokaal nie meer lank beskikbaar sal wees nie. Cor Rademeyer (‘n latere voorsitter van AFO) was op daardie stadium lid van die Departement Chemie op die UP kampus en het gereël dat die lesingsaal op die tweede vlak van die Chemiegebou gebruik kan word vir AFO byeenkomste. Die reëling het vir ongeveer twee tot drie jaar gedurende die periode 1993 tot 1995 gehou. Intussen het Cor met sy kollegas in die Ingenieurs Departement geskakel en het toestemming verkry dat AFO vanaf ongeveer 1995 weer een van die lesingsale in die Ingenieursgebou kan gebruik.
Intussen het die verblyf van AFO op die UP kampus na meer as 30 jaar in ongeveer 2012 tot ‘n einde gekom en het tydelik na die Springboksaal op LC de Villiers, die sportgronde van UP, verskuif. Die vergaderplek is toe na enkele maande verander na die Nikongebou in Midrand, ongeveer aan die begin van 2013. Dié ligging was taamlik onprakties vir ‘n groot persentasie van AFO-lede. Ongeveer aan die einde van 2013/begin 2014 is die byeenkomste toe verskuif na die NG Kerk Elarduspark waar AFO tans nog gesetel is.
Opsommend is dit interessant om op te merk dat AFO in sy 73-jarige bestaan vir meer as 70 jaar sy byeenkomste in slegs drie lokaliteite gereël het: 30 jaar op die UP-kampus, 28 jaar op die kampus van die Pretoria Tegniese Kollege en 12 jaar by die NG Kerk Elarduspark.
6. ERETOEKENNINGS (HONOURS)
Volgens FVSA se 2026 “Member Honours Listing” beskik AFO-lede oor verskeie FVSA eretoekennings wat hieronder aangedui word. Dit bestaan breedweg uit twee kategorieë. Eretoekennings wat toegeken word op grond van (1) panele wat deur lede voorgelê word vir beoordeling en (2) Eretoekennings wat verdien word op grond van die getal salonpunte (aanvaardings) wat op FVSA geakrediteerde salonne verdien word.
(a) Panele wat voorgelê en aanvaar is: (b) Toekennings uit salon aanvaardings:
* LPSSA 11 * DPSSA 14
* APSSA 11 * DPSSA (cls) 2
* APSSA(vers) 1 * DPSSA(vers) 2
* FPSSA 8 * EPSSA 3
* EPSSA (Platinum) 1
* AFIAP 2
Bogenoemde lys van 55 Eretoekennings is verwerf deur 32 AFO-lede. Sommige lede het ‘n meervoud van Eretoekennings ontvang. Soos vermeld, is die data vanuit die FVSA webblad verkry wat impliseer dat nie-FVSA lede (in 2026) se Eretoekennings nie in bogenoemde data ingesluit is nie.
Die volgende is sekerlik ook lede prestasies wat vermelding verdien:
* Daar is twee voormalige AFO lede (wat tans nie meer ‘n AFO-lid is nie of oorlede is), wat die hoogste Eretoekenning wat FVSA toeken, naamlik MPSSA, ontvang het. Hulle is Koos Delport en Johan Botha. Tans is daar landwyd slegs nege FVSA lede (volgens die 2026 FVSA databasis) wat oor MPSSA Eretoekennings beskik.
* Vorige lede van AFO wat as direkteure van FVSA gedien het:
- Louis Marais: President van FVSA : 1980 - 1985.
- Cor Rademeyer: FVSA Direkteur van Noord Gauteng en FVSA Raadslid 2004 – 2005.
- Nico Ligthelm: FVSA Direkteur van Noord Gauteng: 1998 – 2001.
* Ander noemenswaardige prestasies van AFO lede:
- Freek van Eeden: BBC Wildlife Photographer of the year in the early 2000’s.
7. AFSLUITING
Soos die huidige AFO voorsitter, Koos Marais, in sy openingswoorde tydens die 2025 Jaarvergadering vermeld het “ … AFO is ‘n roemryke klub … ” wat dit die moeite werd maak ” … om sy naam en eer gestand te hou, te beskerm en uit te bou … ”.
AFO se reis die afgelope 50 jaar bevestig hierdie sentiment.

