top of page

Ontstaan en Geskiedenis van AFO

Koos Delport is 'n ere-lid van AFO. Koos het sedert die beginjare van AFO 'n reuse rol gespeel om die aard en karakter van AFO te bou soos dit vandag is. Hy het 'n leidende rol gespeel om die aard van natuurfotografie te definieer en het baie van ons die fyner kuns van die kuns geleer. Sy beelde is uitstekend en Koos het tot by verre grense menigte toekennings verwerf en respek afgedwing.  - Webmeester 

 'N KORT REIS OP DIE LANG PAD VAN AFO sedert 18 April 1953 - deur Koos Delport

Gedurende die vroeë vyftigerjare was daar 'n sterk behoefte in Pretoria vir 'n fotografie vereniging van Afrikaanse amateurfotograwe. Op 18 April 1953 het Mnre. J.S. Enslin, A.P. Snyman, ene Mnr. Botha en nog 'n vierde persoon saam met Mnr. Andries de Witt, 'n beroepsfotograaf, bymekaargekom en 'n vereniging gestig wat hulle die Afrikaanse Fotografiese Organisasie (AFO) genoem het.

Vergaderings is maandeliks in Andries de Witt se ateljee gehou en die belangstelling het maandeliks toegeneem. Gedurende 1954 word die maandelikse vergaderplek verskuif na die Pretoriase Kollege vir Gevorderde Tegnies Onderwys. 'n Grondwet is opgestel en aangeneem met Louis Nel as voorsitter.  In April 1954 verskyn die eerste maandelikse nuusbrief, wat die voorloper van die Korrel maandblad was totdat die AFO webwerf dit in 2005 vervang het.

In die begin is daar hoofsaaklik op monochroom afdrukke gekonsentreer, maar later is besluit om elke derde maand aan kleurfotografie te wy. In Julie 1956 verskyn die eerste uitgawe van die Korrel maandblad.  Deon van der Westhuizen ontwerp die AFO-wapen, wat vandag nog gebruik word.  Die moderne weergawe is deur Hein Waschefort gedoen.  Die eerste jaareindfunksie en jaareindkompetisie vind plaas.

In 1957 wen AFO vir die eerste keer die beker in 'n Interklubkompetisie vir klubs wat met die Johannesburg Camera Club geaffilieer is.

In 1958 word ‘n skyfiereeks onder leiding van Louis Nel oor AFO se aktiwiteite saamgestel en na Dunedin Camera Club in Nieu-Seeland gestuur waar dit die hele land deurreis en baie belangstelling gewek het. Gedurende 1959 word 'n dameslid vir die eerste keer tot die bestuur verkies.

In 1960 word 'n afdrukreekse-kompetisie vir die eerste keer ingestel.

Gedurende 1961 word 'n wedstryd vir 'n skyfiereeks die eerste keer ingestel en in 1962 word 'n "Veterane-groep" ingestel, die voorloper van die huidige "Meesters-groep".  Die eerste metaal lapelwapens word gedruk en aan die lede verkoop. Gedurende 1963 word 'n dameslid vir die eerste keer na die bevorderingsgroep bevorder.  In 1964 word die "Veterane-groep" se benaming word verander na die huidige "Meestersgroep".

In 1967 word ‘n skyfiereeks oor Natuurfotografie saamgestel met 'n klankbaan in Afrikaans en Engels en aan die reeksversameling van PSSA geskenk.  In 1968 is Piet Odendaal die eerste AFO-lid om sy APSSA te verwerf.  In 1969 word 'n kleurskyfiereeks van Cliff Lewis aangeneem by 'n internasionale uitstalling van reekse, die eerste in AFO se geskiedenis.

In 1970, die "Waterjaar" wen AFO die PSSA se Interklubkompetisie van skyfiereekse by die Kongres gehou in Kaapstad. Gedurende die jaar styg die ledetal die eerste keer tot meer as 100 naamlik 105.  Louis Marais skenk twintig "Meesterskilde" wat aan AFO se Meesters toegeken word en wat vandag nog die gebruik is as ‘n lid ‘n Meester word. Die eerste Pretoriase Internasionale Uitstalling van Fotografie vind in 1971 plaas en twee AFO-lede tree as beoordelaars op.

Die hoogtepunt gedurende 1974 was die viering van AFO se 21ste verjaardag gedurende Mei-maand. Verskeie oud-lede, oud-bestuurslede en ander amptenare woon die funksie by. In 1975 vind die PSSA-kongres in Pretoria plaas.  Dit is ook PSSA se 21ste verjaardagkongres is. AFO se voorsitter tree as voorsitter van die reëlingskomitee op. Gedurende die jaareinddinee van 1976 word 'n voorsitterstoekenning vir die eerste keer gemaak en wel aan Koos Delport.

In 1977 word die ligkas as metode van beoordeling in Pretoria ingebruik gestel en AFO maak ook daarvan gebruik. Die stelsel word tans nog met sukses gebruik. Die hoogtepunt vir 1977 was AFO se oorwinning in die Nasionale Fuji Interklubkompetisie, 'n prestasie waarop ons baie trots is. Die eerste AFO-diensmedalje ('n goue medalje) word aan Louis Marais toegeken vir sy lang en getroue diens aan die klub in besonder en aan fotografie in die algemeen. PSSA"infinity" dasse word aan nege AFO-lede toegeken vir uitstaande en volgehoue prestasies in fotografie.

bottom of page