top of page

Voorsitters van AFO

1953 – Andries de Witt

1954 – Louis Nel

1955 – Louis Nel

1956 – Louis Nel

1957 – Otto Krynauw

1958 – Deon van der Westhuizen

1959 – Deon van der Westhuizen

1960 – Deon van der Westhuizen

1961 – Mike Gouws

1962 – Philip Marais/Mike Gouws

1963 – Piet Odendaal

1964 – Mike Gouws

1965 – Mike Gouws

1966 – Mike Gouws

1967 – Piet Odendaal

1968 – Piet Odendaal

1969 – Deon van der Westhuizen

1970 – Deon van der Westhuizen

1971 – Deon van der Westhuizen

1972 – Cliff Lewis

1973 – Cliff Lewis

1974 – Gert Marais/Louis Marais

1975 – Louis Marais

1976 – Louis Marais

1977 – Frans Groenewald

1978 – Frans Groenewald

1979 - Louis Marais

1980 - Louis Marais

1981 - Louis Marais

1982 - Koos Delport

1983 - Koos Delport

1984 - Koos Delport

1985 - Gerrie Venter

1986 - Koos Delport

1987 - Koos Delport

1988 - Koos Delport

1989 - Willem Botha

1990 - Willem Botha

1991 - Willem Botha

1992 - Willem Botha

1993 - Gerrie Venter

1994 - Nico Ligthelm

1995 - Nico Ligthelm

1996 - Nico Ligthelm

1997 - Cor Rademeyer

1998 - Cor Rademeyer

1999 - Nico Ligthelm

2000 - Nico Ligthelm

2001 - Wilana Smidt

2002 - Freek van Eeden

2003 - Freek van Eeden

2004 - Frank de Villiers

2005 – Frank de Villiers

2006 – Cor Rademeyer

2007 – Johann Mader

2008 – Melanie Loubser

2009 – Melanie Loubser

2010 – Melanie Loubser

2011 – Eric Rautenbach

2012 - Eric Rautenbach

2013 - Anton la Grange

2014 - Madelene Kruger

2015 - Madelene Kruger

2016 - Johan Stephens

2017 - Johan Stephens

2018 - Dolf Steyn

2019 - Dolf Steyn

2020 - Neels Jackson

2021 - Neels Jackson

2022 - Neels Jackson

2023 - Johan Stephens

2024 - Koos Marais

Huidige Voorsitter: Koos Marais

Koos Marais LPSSA.jpg

Iets meer oor van ons vorige voorsitters

Koos Delport MPSSA

Koos Delport, fynproewer fotograaf, is gebore op 9 September 1934 op die plaas Kromdraai in die Vredefort Koepel en getoë aan Potchefstroom Volkskool en die Witwatersrand Tegniese Kollege verdien die jong Koos Delport hier iewers in 1957 genoeg geld om sy eerste kamera te koop. Hy werk op Virginia se Harmonie myn en koop Yashica se twee en ’n kwart duim Twin Reflex kamera vir die reuse bedrag van 12 pond.

 

Sy oog val op ’n advertensie in die Landbouweekblad. Iemand in Upington wil al sy donkerkamertoerusting verkoop. Die geld word oorbetaal, die toerusting verpak en per spoor versend, tot op Virginia. Koos ontwikkel sy eie films en afdrukke. Dit is die begin van ’n lang en roemryke loopbaan as amateurfotograaf.

 

Sy oog val ook op ’n mooi jong meisie, voormalige hoofmeisie van Virginia se Hentie Celliers Hoërskool en op 19 Desember 1959 trou hy met Katie. Die Yashica maak plek vir ’n Asahi Pentax met ingeboude ligmeter, maar Katie bly vir ewig.

 

Daardie ingeboude ligmeter was ’n ding, vertel oom Koos. Die Nikons van destyds het dit nie gehad nie, net ’n aparte een wat jy bo-op die kamera kon monteer. Die Pentax was ’n spoggerige masjien, maar gou het hy geleer dat mens ’n aparte onafhanklike ligmeter ook nodig gehad het. “Ons het 10h00 in die oggend die lig gemeet. Die standaard meting vir ’n 50 ASA (vandag se ISO) film was gemeet op ’n 18% gryskaart. As jou lesing vir jou ’n kombinasie van f5.6, en ’n vyfhonderdste van ’n sekonde gegee het jy geweet dit was so min of meer ’n standaard dag. Soos wat die lig skerper geword het kon jy bietjie aanpas.”

 

In 1962 besoek Koos en sy vriend Francois Maré die Kalahari vir die eerste keer. Nadat hulle die oneindige grondpad agter die rug gehad het kom hulle tienuur die aand by Twee Rivieren aan. Hulle begin afpak om ’n oornagkamp net buite die hek op te slaan, maar skielik staan Joep le Riche, die Parkhoof van die Kalahari Gemsbok Nasionale Park voor hulle. Hy sluit self die hek oop en dring daarop aan dat hulle inkom. Hy sluit vir hulle een van die drie rondawels oop en nooi hulle uit om hulleself tuis te maak. Vir die volgende sewe dae sou Joep na hulle welstand omsien deur onder andere vuurmaakhout te laat aflewer.

 

Dit was die begin van ’n lewenslange verbintenis met die Kalahari. Koos sou uiteindelik baie mense aan die Kalahari blootstel, onder andere ook ander AFO-lede soos Charlie Summers en Louis Marais. Dit sou ook aanleiding gee tot die twee PSSA-konferensies wat mettertyd in die Park gehou is.

 

Stoffel le Riche, Joep se seun, was aanvanklik afdelingsveldwagter op Mata Mata en het in 1970 sy pa as Parkhoof opgevolg. Ook hy en Koos het bevriend geraak. Wanneer Koos se vroegoggend fotografie uitstappie tot ’n einde kom sou hy soos die meeste van ons by een van die piekniekplekke stilhou om ontbyt te nuttig. Baie dikwels het hy vir Stoffel raakgeloop. Dan sou Stoffel keer sodat hy wat Stoffel is die piekniektafel eers kon skoonmaak, met sy eie hande.

 

Koos het toestemming gehad om van die gebaande weë af te ry, ’n voorreg wat hy nooit misbruik het nie, maar eendag het ’n jong veldwagter hom aangespreek en ’n boete van R50 uitgereik. Koos het soos die heer wat hy is, stilgebly en die boete gaan betaal. Jare later sou dit ’n baie mooi en interessante nadraai gehad het.

 

Koos het ook ander wildtuine besoek om foto’s te neem. Hy het onder andere drie reise na die Gorongosawildtuin in Mosambiek onderneem. Toe was hy al diep betrokke by kleurskuifie fotografie en met sy terugkeer het hy met Katie en hulle klein seuntjie Marius in die kar reguit na Agfa se fabriek in Isando gery om sy films vir ontwikkeling in te handig, nog voordat hulle eers by die huis was.

 

’n Ander gunsteling wildtuin was Etosha waar hy wonderlike beelde vasgelê het.

 

Koos en sy vriend Francois Maré was albei gek na die sogenaamde halfmens plante, Pachypodium namaqua. Eendag bel Francois hom en vra of hy kans sien om R250 by te dra vir die huur van ’n sessitplekvliegtuig sodat hulle vir ’n naweek na die plaas Sperlingsputz in die suide van Namibië kan vlieg om die eienaardige plante te gaan afneem. Koos stem in en hulle vlieg vanaf Lanseria. Hulle land op Upington vir brandstof en na opstyging ontwikkel die vliegtuig probleme. Hulle doen ’n noodlanding op Kakamas en skakel Lanseria vir hulp. Uiteindelik daag ’n tegnikus op en hulle styg weer op. Dit is nou al laat en Koos beleef ’n benoude paar uur toe die vlieënier omkyk en vir Koos sê dat hy glad nie weet waar Noordoewer, hulle beoogde bestemming vir die aand, is nie. Koos dink so rukkie en sê vir die vlieënier om net eenvoudig die teerpad wat hulle sopas gekruis het te volg. So land hulle uiteindelik veilig op Noordoewer terwyl die ganse Namibië reeds na hulle soek. Die volgende oggend vroeg vlieg hulle Ai-Ais toe waar hulle verneem hoe diep in die moeilikheid hulle is. Gelukkig kon ’n paar telefoonoproepe die probleme uitklaar.

 

Nog was dit die einde nie. Tydens die landing op Lanseria, in die donker, is die vlieënier se eerste poging so onelegant dat al die ligte in die vliegtuig uitdoof en dat hy dadelik weer opstyg. Met die tweede probeerslag kon die passasiers na ’n baie moeilike naweek uit die klein vliegtuigie klim en asemhaal. Diep in Koos se sak was daar ’n paar kosbare rolletjies films van die halfmens wat alles die moeite werd gemaak het, sê Koos.

 

Die aantrekking van en hunkering na die Kalahari het egter nooit uitgedoof nie. Sedert 1962 se eerste besoek het hy min of meer elke jaar twee keer daar gaan foto’s neem.

 

In 1974 sluit Koos by AFO aan en vanaf die volgende jaar, 1975, dien hy op die bestuur tot ongeveer in die negentigs. In 1982 tot 1984 en weer in 1987 en 1988 dien hy as voorsitter van die klub. In 1984, 1986 en 1988 is hy voorsitter van die eerste drie AFO salonne.

 

In 1983 word lewenslange erelidmaatskap aan hom toegeken en in 2000 word hy bevorder tot AFO se eerste Grootmeester. Hy neem aktief aan AFO se maandelikse kompetisies deel tot 2010.

 

Koos en die res van die wêreld se fotograwe moes noodwendig die opwindende maar hartseer oorgang van analoog fotografie na die digitale era maak. Aanvanklik het hulle hulle ou skuifies gedigitaliseer maar uiteindelik het die digitale tegnologie die filmwêreld ingehaal en het Koos ook hierdie genre van fotografie bemeester.

 

Sy liefde en ywer vir die Kalahari dra by daartoe dat die PSSA kongres twee keer in die Kalahari, op Twee Rivieren aangebied word. Die kongresse is besonder goed bygewoon. Die ruimte wat as die Afdak sou bekend staan was pas gebou en is as’t ware deur die PSSA se fotograwe ingewy. Later sou dit die restaurant word.

 

Tydens een van hierdie kongresse bied hy ’n volle dag se werkswinkel, gefokus op drie aanbiedings, “Kalahari, Land of Contrasts,” voëls en soogdiere, aan. Die fotograwe was stomgeslaan en oorweldig deur die kwaliteit van sy aanbiedings en toe die laaste note van die pragtige musiek wat sy aanbieding vergesel het uitdoof, spring die gehoor spontaan op en begin hande klap.

 

Dit was toe wat Elias le Riche, wat sy broer Stoffel as Parkhoof opgevolg het en in die gehoor gesit het, opstaan en hom gelukwens. Toe voeg hy by: “Koos, ek hoor een van my veldwagters het jou beboet met R50. Ek betaal graag vandag daardie R50 terug aan jou. Jy is die beste advertensie wat hierdie Park kan hê. Ek sal sorg dat ons mooi na jou kyk in die toekoms.”

 

Koos Delport was in sy leeftyd een van Suid-Afrika se mees suksesvolle fotograwe. Hy behaal sy APSSA vir kleurskuifies in 1975, FPSSA kleurskuifies in 1977 en MPSSA vir die genre in 2003. In 1987 kry hy ook sy APSSA vir monochroom afdrukke en in 2008 sy APSSA vir digitale werk, opgevolg met in 2009 sy FPSSA vir die nuwe medium. In 2008 ontvang hy ook APSSA (Vers).

 

Reeds in 1982 verdien hy die 5th Star Nature van die Amerikaanse PSA. Hy verwerf ’n totaal van 21 silwer medaljes by 21 PSA salonne, met ander woorde “Best of Show” by elkeen van daardie 21 salonne.

 

In 2001 ontvang hy ook die FIAP van die Europese Federation of Photography.

 

In 1985 word hy aangewys as die algehele wenner van Agfa se Wildlewe Fotograaf van die Jaar kompetisie.

 

Koos sê dat die hoogtepunt van sy loopbaan sy betrokkenheid by die reëlings van drie PSSA kongresse was, twee by Twee Rivieren in die Kalahari en een by die Allemanskraaldam in die Vrystaat, maar dat die ding wat vir altyd by hom sal bly die blywende vriendskappe en die diep voetspore van sy vriende is.

Byskrifte

 

Cheetah charge: Hierdie foto het vir Koos groot roem en ’n aansienlike bedrag geld besorg. Die oorspronklike skuifie is vir ’n tydperk van drie jaar aan ’n Amerikaner gesindikeer vir die bedrag van 5000 dollar.

 

Impala: Hierdie foto het Koos met ’n digitale kamera geneem juis om te kyk wat sou gebeur met ’n 1000 ISO. Die resultaat spreek vanself oor die nut van ’n Canon Canon EOS 30D en die vernuf van die operateur se pan-aksie. Die sluiterspoed was ’n skamele 640 en die lensopening f8.

 

Zebra duel: Die oorspronklike beeld is vasgevang op film en later gedigitaliseer.

 

African elephant: Nog ’n gedigitaliseerde filmbeeld.

 

Savuti Elephant: ’n Digitale beeld, vasgevang met ’n Canon 30D.

 

Zebra combat: ’n Kleurskuifie wat gedigitaliseer is.

 

Egyptian goose: Hier het Koos sy digitale Canon EOS1D Merk 3 gebruik.

 

Pachypodium namaqua: Dit het Koos R250 (baie lank gelede) en drie noue ontkomings in ’n klein vliegtuigie gekos om die geleentheid te kry om die halfmens op Sperlingsputz in die suide van Namibië te gaan afneem.

Enkele van Koos se foto's :

Louis Marais FPSSA
Louis Marais.jpg

Louis Marais was AFO se voorsitter in die jare 1975, 1976, 1979, 1980 en 1981. Hy was ook president van PSSA vanaf 1980 tot en met sy dood in 1985. Destyds was die termyn vir laasgenoemde pos beperk tot twee jaar, maar sy gewildheid as president en mens was so groot dat besluit is om die grondwet te wysig ten einde hom te behou as president van PSSA. 

Louis het sy AFO loopbaan begin laat in die sestigs toe maandelikse vergaderings nog in die Pretoria Tegnikon in Kerkstraat in die middestad van Pretoria gehou is. Later onder sy voorsitterskap van AFO het die vergaderings verskuif na die Ingenieursgebou op die kampus van die Universiteit van Pretoria. 

Aanvanklik was die fokus van sy fotografie stillewes en toe het dit verskuif na menslike portrette. Hy het altyd spottenderwys gesê dat die enigste goeie portretonderwerpe mooi, jong vrouens en lelike ou mans is. Sy portretwerk het hy gedoen met 120 mm Hasselbladkameras in sy eie ateljee by die huis in Lynnwood. Natuurlik het hy ook al sy films en afdrukke in sy donkerkamer ontwikkel. Louis se afdrukke het wêreldwyd toekennings op salonne ontvang. 

Later het hy 35 mm Nikon toerusting aangeskaf en homself begin toespits op natuurfotografie waar hy sy sukses met portrette oortref het. Hy en sy goeie vriend Koos Delport wat ook later voorsitter van AFO was het gereeld die Kalahari Gemsbok Nasionale Park besoek en duisende foto’s daar geneem. 

Louis het vriendskappe met honderde fotograwe wêreldwyd opgebou en sy nalatenskap is iets waarvan AFO en PSSA vandag steeds die vrugte pluk.

Cor Rademeyer APSSA

Cor was Voorsitter vir drie jaar gedurende 1997 - 98 en toe weer 2006.

Cor was Fotograaf van die Jaar in 1996. Buiten as Voorsitter, het hy etlike jare op die Bestuur gedien oa as Korrel Redakteur en Onder-Voorsitter. Hy verwerf die AFO Goue Diensmedalje in 2007 en Lewenslange lidmaatskap in 2009. Hy het ook die Voorsitters toekenning ontvang op twee geleenthede. Cor was ook Direkteur van PSSA vir Noord-Gauteng. Ander hoogtepunte sluit is:

1997 - AFO wen Premier Klubtoekenning: skyfies

1998 - Salondirekteur 8e AFO-salon. Eerste salon katalogus in kleur. 

1998 - AFO wen Premier Klubtoekenning: afdrukke en skyfies

2006 - AFO staak publisering van Korrel. Kommunikasie geskied via e-pos.

2009 - Ontvang lewenslange lidmaatskap van AFO voor hy na Australië verhuis

Melanie Loubser APSSA

Melanie Loubser 2008, 2009, 2010.jpg

Melanie en haar man, Henri het in 2005 by AFO aangesluit toe sy haar eerste kamera gekry het, ‘n Nikon D70. Twee jaar later het sy haar APSSA digitaal behaal en oor jare by die klub gevorder tot in die Meester kategorie. Sy tree op as klub- en salonbeoordelaar vir etlike jare.
In 2006 word Melanie deel van die AFO bestuurspan en was Voorsitter vir 2008, 2009 en 2010. In 2010 wen AFO die Noord-Gautengse streekkompetisie en die PSSA Nasionale Klubkompetisie.
Melanie was die Salondirekteur vir 2009 en 2010 AFO salonne en in 2011 was sy die PSSA kongresdirekteur vir die Hartebeespoortkongres.
As ‘n natuurfotograaf ontwikkel Melanie vinnig ‘n voorliefde vir voëlfotografie en wen sy in 2008 en 2010 goue medaljes in die Voëls afdeling van die International Garden Route Salons; in 2010 by AFO die medalje vir die Beste digitale inskrywing van die jaar. By AFO het sy Voorsittersmedaljes in 2007, 2011, 2013, 2014 en 2016 ontvang vir goeie diens aan die klub gelewer.
Melanie is passievol oor klubfotografie: “Ek weet nie hoe mens as fotograaf ontwikkel sonder om as ‘n beginner aan ‘n klub te behoort nie. Dis waar mens nie net ongelooflik baie leer nie, maar ook ongelooflike mense ontmoet wat jou passie deel en jou mentor!”
Alhoewel Melanie se korporatiewe loopbaan in Menslike Hulpbronne was, leer sy haarself hoe om vir hulle eie foto’s ‘n webwerf te bou om dit met familie en vriende te kan deel. Hierdie belangstelling in webwerwe groei vinnig en in 2010 word sy die AFO webmeester tot en met 2018.
Die AFO webwerf wen die jaarlikse PSSA webwerfkompetisie in 2013 en 2014 met 2de plekke in 2017 en 2018. In 2012 word sy ook die webmeester vir die PSSA webwerf tot 2018 waarvoor PSSA in dié tydperk drie Diensmedaljes aan haar toeken. Sy dien ook as ‘n Nasionale Direkteur van die PSSA
vir dieselfde tydperk.
Intussen het sy en haar man klaargemaak met hul korporatiewe loopbane en is reis en fotografie sedert 2015 ‘n nóg groter deel van hul lewe. Hulle behoort sedert 2019 aan ‘n forum vir fotograwe wat nie meer werk nie. Sy is ook dié forum se webmeester. In 2020 word Melanie weer die PSSA
webmeester en word sy verkies as Nasionale Direkteur van PSSA.

Enkele van Melanie se fotos:

Dolf Steyn

Dolf Steyn.jpg

Dolf was voorsitter vir 2018-2019. 

 

Ek is gevra om my Foto CV te skryf, maar dis eintlik niks, so ek skryf maar my foto storie :-)

Ek was skaars bewustelik mens (seker so 1966) toe ek letterlik deur die venster vir my pa gewys het na n kamera wat ek wou h^e. Ek het geen benul van kostes nie maar dit was eintlik net n reghoek met plek vir n film, n stukkie ysterplaatjie langs die lens wat ek moes afdruk om die foto te neem en 2 slingertjies om aan te draai. Een vir vorentoe en een vir agtertoe as hy vol was. Die eienaar het seker die gesprek buite gesien en uitgekom. Hy het gesien Pa was nie lus nie, maar het aangebied om my n gebruikte een te leen mits ek beloof om sodra die film vol is, saam met hom in die donkerkamer te kyk wat op die film is. Ek het soveel films by hom gekoop en ontwikkel as wat ek my sakgeld van kon oortuig. Daar was geen sprake van komposisie of enige tegniese sake nie, ek het omtrent net geleer hoe om te kyk vir n opsie want alles pas nie op die raampie nie en woeste lig of donker het die foto bederf. Die donkerkamer tegnieke het ek aanskou en seker meer gepla as gehelp. 

 

Ons moes n ruk later verhuis na Johannesburg en die geleenthede was weg want Johannesburg se films was totaal en al buite my bereik teen sowat 4x duurder as wat ek betaal het. Ek was eers heelwat ouer voor ek besef het wat moes aangegaan het. Nooit besef ek was gesubsideer deur n ou oom met n groot liefde vir fotos en geloof in die toekoms nie.  Ek weet nie wat sy naam is nie en nie eers meer waar die winkel was nie, maar dis alles sy skuld :-)

 

Laat ho"erskool met naweek en vakansie werk vir my n 2e handse Canon AE1 met standaard 50mm lens gekoop. Ons het groot maats geraak, en nou was dit skyfies.  PW en seuns het my 2 jaar v my kamera weggehou en die jaar daarna op kampus sien ek eenkeer n ingang wat baie donker is. Die ligskakelaar het geen verskil gemaak nie. Later met n flits om die 2 hoeke en deur 'n ongesluite deur gegaan en 'n donkerkamer ontdek! Weereens geen gloeilamp nie, maar wel met 'n vergroter, panne, droogmaker, grootmaat negatief rol na filmrolletjie oorsit boks (weet steeds nie eers wat jy dit noem nie). Selfs ou chemikalie en bietjie papier!. Alles dig onder stof. Die deur het wonderbaarlik n nuwe slot gekry en n rooi gloeilamp en, en, en. Die stof was weg en ek het n ekstra sleutel aan by bos gehad.  Vir byna 3 jaar daar gespeel en toe ek loop n dosent vertel van die plek waarvan niemand geweet het nie. Ek het nie gekla nie.

 

Toe begin ek werk en het nie meer toegang tot die donkerkamer nie, skyfies het te duur geraak vir 'n ou wat net begin werk het en daar was te veel toerusting wat ek agtergelaat het wat ek nie kon vervang nie, so eintlik het ek ophou fotos neem. Egter nie opgehou lees nie.  

 

In 2011 'n 60D gekoop en eintlik eers lekker begin speel. Steeds op my eie en sonder ander insette as lees. In 2018 nooi Hannes vd Berg my saam AFO toe. In 2019 het ek geskuif Sony a7iii toe.  

Ek daag myself uit om van alles fotos te neem, maar het tot dusver meeste sukses met landskappe. Nog baie om te leer. Ek is dankbaar teenoor Hannes en AFO wat my betrek het by ordentlik dink en praat oor foto's. Ek sal nalaat as ek nie ons "helpmekaar" groepie ook noem as n groot vormende faktor in my fotografie paadjie nie. Ons trek mekaar se fotos ordentlik uitmekaar en leer lekker baie. Ek beveel so groepie vir almal ten sterkste aan!

So nou my CV:

 

Ek is n Meeste brons, 3 Diamant fotograaf.

 

...en ek wonder soms oor die oom wat my "gevang" het sonder dat ek dit eers ordentlik besef het.

Johan Stephens  LPSSA

Johan Stephens LPSSA.jpg

Fotografie was slegs bedoel om n ontspannende stokperkie te wees, maar het my op interessante wee gevat. My eerste kennismaking met kameras was my ma wat met n Canon geskiet het. Sy was n vryskut fotojoernalis vir die Sunday Times, SAUK en verskeie plaaslike koerante op Carletonville, Ermelo en Rustenburg tussen 1966 en 1982.

Deur my hoerskool dae, universiteit en daarna het en altyd fotos geneem met n Codac boks kamera en het altyd uitgesien om n “regte” kamera te kan besit. In 2011 koop ek my D90 met die 18-200 lens op aanbeveling van n ou skoolmaat. Ek en Hannie het in September 2011 deur Namakwaland met die blomme seisoen getoer en is daarna Augrabies en Kgalagadi toe. In Kgalagadi het ek agter gekom dat die 18-200 nie heeltemal die ding doen met wildlewe nie en beplan om n Sigma 150-500 aan te skaf. Ek en Hannie het toe ook daarna by AFO aangesluit op n vriend se aanbeweging.

In 2012 sluit on sook aan by die SAAFMPC (South African Air Force Museum Photography Club). Francois Venter was toe die voorsitter vd SAAFMPC klub. Ek het begin om vliegtuie af te neem om my “panning” vir my wildslewe fotos te oefen deur teen baie lae sluiterspoed vliegtuie af te neem met my D3S. In September 3013 was by die  eerste “Sky Grand Prix” vir vliegtuie oor Durban se Noord Strand. Die redakteur van die SA Flyer, Guy Leitch het my fotos op Facebook raakgesien en my aangestel as n vryskut fotojoernalis. Nikon het my ook bygestaan deur enige lens wat ek wou gebruik vir my te leen. Dit was n ongelooflike leerskool met besonderse geleenthede wat ook werk vir die SAAF en SAAB ingesluit het tot en met my rug operasie in Junie 2017. My vriend Christo Crous is in 2015 beseer en kon vir n tyd nie n kamera met n lang lens hanteer nie en hy nomineer my toe om in sy plek vir SAAB waar neem. Die hoogtepunt was om die enigste fotograaf te wees tydens die SAAF se ontvangs vd laaste Gripen by Twee Eskader te Makhado. Die meeste van die fotos is ongelukkig nog steeds “geklasifiseerd” en slegs beskikbaar vir die gebruik van die SAAF en SAAB. Tussen 2013 en 2017 het die SA Flyer 145 fotos van my gepubliseer wat n voorblad, twee dubbel volblaaie en nog drie enkel volblad fotos ingesluit het. Guy Leich het my geleer wat sy standaarde vir n skerp foto is; hy sou n vliegtuig-foto neem, n klinknael n paar honderd keer vergroot op sy skerm en dan moet dit steeds koelrond wees.

In 2014 het ek ook op AFO se bestuur begin dien as onder-voorsitter en in 2015 is ek genomineer tot die PSSA direksie as bemarkingsdirekteur. Ek het ook by Madelene as AFO voorsitter oorgeneem in Oktober 2015 tot 2017. Die hoogte punt vir my en Madelene was toe AFO by die 2015 PSSA Club Mykonos kongres aangewys is as die nommer een fotografieklub in SA. Na my rugoperasie in 2017 het ek bedank uit die PSSA en AFO bestuur.

Fotografie het vir my geleenthede gebied om op plekke te kom waar ek nooit sou verwag om te kan wees nie. Sedert ek my eie besigheid op 1 Maart 2020 begin het is my tyd vir fotografie egter meer beperk en moet ek tyd maak om daarby uit te kom. Dit bly egter n wonderlike stokperdjie wat n mens altyd nederig maak sodra jy dink jy het dit baas geraak. Ek is ook geseend met n huweliksmaat wat my passie vir fotografie deel en self n baie bekwame fotograaf is, meester brons.

Koos Marais LPSSA

Koos Marais LPSSA.jpg

Koos Marais was meer as 50 jaar gelede reeds ’n lid van AFO. Hy was toe op Hoërskool Menlopark en sy pa, Louis, was die voorsitter van AFO. Destyds het hy die sogenaamde intermediêre vlak bereik en hy onthou met genoegdoening sy “beste” foto van daardie tydperk, ’n kleurskyfie met ’n ligte derivasie van ’n hoenderhaan in ’n outydse bakoond op sy ouma se plaas Kromfontein. Die titel van die skyfie was heel gepas “Bakhoender”.

 

Na skool het hy tandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer en tydens sy vyfde en sesde jaar het hy sy klasgeld verdien deur as joernalis en fotograaf vir die destydse Hoofstad koerant te werk. Een van sy take was om elke Sondag die wenner van die naweek se wedvlugduiwe kompetisie te besoek en ’n foto te neem en die storie te skryf. Hy het die negatiewe daardie selfde dag ontwikkel en ’n afdruk gemaak. Maandagoggend het hy na die koerantkantoor in Mitchellstraat gery en sy materiaal afgelewer sodat dit in Woensdag se koerant kon verskyn.

 

Hy praktiseer nou 45 jaar in Pretoria as tandarts en was ook vir 12 jaar by sy alma mater en twee jaar by die Universiteit van die Witwatersrand as akademikus betrokke. Hy het meer as ’n 100 navorsingsartikels, populêr-wetenskaplike artikels en abstrakte gepubliseer en lesings nasionaal en internasionaal aangebied. In hierdie tydperk het hy ook ’n aantal patente ontwikkel.

 

In die tagtigerjare word hy gewerf as lid van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging en hy word onmiddelik die stigter en eerste redakteur van die SA Jagter/Hunter, ’n tydskrif wat vandag nog bestaan.

 

In dieselfde tyd hardloop hy vier Comrades marathons en speel ook ’n bietjie gholf.

 

Later van tyd begin hy vlieg en word uiteindelik die president van die Aircraft Owners and Pilots Association van Suid-Afrika. Tydens 2010 se sokker wêreldbeker stamp hy koppe met die Burgerlugvaartowerheid, SAPS en die SA Lugmag, maar wen die stryd in die howe en verseker dat die land se vlieëniers kan aanhou vlieg tydens die toernooi.

 

In 2007 begin hy om ’n lewenslange droom te verwesenlik deur ’n roman te begin skryf, ’n taak wat hom nege jaar sou besig hou voordat die boek, Die Keiservoël Oor Namaland, gepubliseer sou word. Sedertdien het hy verskeie ander publikasies die lig laat sien, onder andere twee boeke oor sy groot liefde, die Kalahari.

 

Na ’n afwesigheid van 40 jaar sluit hy in 2014 weer by AFO aan en neem getrou aan die maandelikse kompetisies deel. Van die begin af het hy sy pa se woorde oor beoordeling en beoordelaars onthou en eerbiedig. Hy het hom voorgeneem om nooit oor beoordeling te kla of kritiek te lewer nie. Hy is nou op Meester Silwervlak en het reeds twee LPSSA honneurstoekennings, een vir kleurafdrukke en een vir Toegepaste Werk verwerf.

 

Koos en Ingrid is al vir 47 jaar getroud en het twee kinders, Soekie en Gunther wat met Su-an getroud is, en twee kleinkinders, naamgenoot Jacobus en Jana-Ingrid.

 

Koos het Ingrid aan AFO voorgestel en sy is stadig maar seker besig om hom verby te steek. Sy sal binnekort ook Meester Silwer vlak behaal. Hulle kuier gereeld in die Kalahari om te kan foto’s neem.

Ander vorige voorsitters

bottom of page