Goue Meester CV en galery
MARAIS, Koos
LPSSA, DPSSA
My fotografieloopbaan het meer as 50 jaar gelede in my pa, Louis se donkerkamer begin. Ek het by hom geleer hoe om negatiewe te ontwikkel en foto’s te druk. Ek was ongeveer 13 jaar oud toe ek my eerste AFO-maandvergadering bygewoon het. Destyds was die voorsitter oom Deon van der Westhuizen en ons het in die Pretoria Tegniese Kollege vergader. Die vergaderings was baie langdradig en uitgerek vir my jong gemoed. Dit het begin deur jou foto’s te oorhandig vir beoordeling. Die bestuurslede het die afdrukke en die enkele kleurskyfies gerangskik in een of ander volgorde.
Die eerste vier fotos in die eerste gallery hieronder is ’n paar van my AFO inskrywings van meer as 50 jaar gelede. Let op die naam soos dit op die skyfies aangebring is.
Die volgende stap was ‘n lesing en dan het die beoordeling begin. ’n Foto is beoordeel as goud, silwer, brons of geen toekenning. Ons het nooit voor elfuur in die aand huistoe gery nie. Later het my pa voorsitter geword en ek het self by AFO aangesluit. My fotografie het verbeter en ek het selfs by salonne ingeskryf. Op ’n dag het ’n foto wat ek ingeskryf het ’n merietesertifikaat by ’n salon gewen. Die foto het ’n hoender in ’n outydse plaasoond uitgebeeld. Ek het in die donkerkamer ’n ligte derivasie daarvan gemaak en die twee skyfies bo-op mekaar gemonteer. Die titel van die skyfie was natuurlik “Bakhoender” – sien die vyfde foto in die gallery hieronder.
Destyds was my prestasie groot nuus. Salonne was nie so volop soos vandag nie en vir ’n jong skoolseun om ’n merietesertifikaat te wen was uitsonderlik. Ek en my pa is na die salon se prysuitdelingsfunksie genooi. Dit het plaasgevind in die beroemde Carltonsentrum. Na die tyd het ons in die spoggerige restaurant heel bo op die hotel gaan eet, met das en baadjie natuurlik.
By my skool, die Hoërskool Menlopark, het ek ook aan die fotografieklub se bedrywighede deelgeneem en ons het ons strafste mededingers, die Afrikaans Hoër Seunskool, lekker uitgestof. Só het ons gesigte ook in die Hoofstad koerant beland – sien asseblief die sesde foto in die eerste gallery hieronder. Vir dieselfde koerant het ek later as deeltydse fotograaf en koerantman gaan werk. Elke week moes ek foto’s (swart en wit) ontwikkel en druk.
In 2014 het ek weer by AFO aangesluit en my ou stokperdjie baie ernstig begin beoefen. Ek het ook my vrou, Ingrid, aangemoedig om deel te neem en vandag is sy eintlik ’n beter fotograaf as ek. Ons konsentreer op wildlewe, maar waag dit af en toe ook op die veld van landskappe, menslike portrette en fotojoernalistiek. Ek het ook sopas met makrofotografie begin eksperimenteer.
Fotografie is vandag baie anders as 50 jaar gelede, maar ook in baie opsigte presies dieselfde. Die wedywering tussen fotograwe is net so intens soos destyds en die klagtes oor beoordeling ook.
Fotografie is eintlik ’n metafoor van die lewe self. Dit lyk heeltemal anders van binne as van buite. Eers as jy die lewe deur ’n lens aanskou sien jy werklik wat dit behels. Wanneer jy daarmee begin lyk alles maklik, maar hoe meer jy leer hoe meer ontdek jy die kompleksiteit daarvan. En hoe dieper jy daarin betrokke raak hoe meer sien jy die waarde en skoonheid daarvan raak. Mettertyd leer jy meer en vind jy uit hoe min jy regtig weet. Uiteindelik staan jy net verstom oor die prag van ’n mooi foto en die kuns van die fotograaf, soos ons uiteindelik met gelate verwondering voor die skepping en die Skepper staan.
![]() | ![]() | ![]() |
---|---|---|
![]() | ![]() | ![]() |