top of page

Medalje wenners

Hierdie galery vertoon foto's van AFO lede wat medaljes op salonne gewen het.
          Klik op die naam van die persoon om die foto's en inligting te sien.

LPSSA, DPSSA

Alles het met voëls begin. As klein dogtertjie op ‘n plaas naby Fochville, het ek my verwonder aan die kroonkiewiete wat so territoriaal hulle lappie gras verdedig het, die opwinding as ‘n sekretarisvoël ‘n rinkhals vang, die geduld van ‘n bloureier by ‘n dammetjie en die mossies wat ons soggens vroeg wakker gemaak het. Ek het so gewens ek kon dit vasvang, maar tekentalent het my ontbreek

Musiek was egter my groot liefde  en het my lewe redelik vol en besig gemaak. Die kamera het eers later gebeur. 

Na voltooiing van my B.Mus, is ek getroud met my skoolliefde en hy is ‘n kranige voëlkyker. Ons verkykers kon vakansies net chirurgies van ons verwyder word!

Ek kry my eerste DSLR kamera in 2012 as ‘n verjaardaggeskenk by Anton. Dit was asof iets in my brein ontplof! Nou kon ek wat ons beleef en ervaar tydens ‘n vakansie, met soveel mense deel. Daardie een spesiale moment bly nie net in my brein nie, maar dit kan soveel ander mense ook plesier gee!

Ek het fotoboeke begin saamstel en ure se pret gehad. Neels en Louise Jackson nooi my in 2016 om by AFO aan te sluit. Daar ontdek ek die wonderwêreld van RAW, Lightroom en Photoshop.

Om voëls af te neem, bly nog steeds vir my ‘n groot vreugde  en my foto-voëllys staan op meer as 300 spesies. Ek beywer my egter om so veelsydig as moontlik te wees. 

Kosfotografie is benewens voëls, ook ‘n groot vreugde.

In 2023 het ek ‘n besigheid begin, Oranga Home Décor en my foto’s pryk nou op plekmatjies  en tafellopers, asook op afdrukke vir kombuis dekor. 

Al waaroor ek kla, is dat ‘n kamera en ‘n verkyker en ‘n driepoot nogal baie bagasie is vir iemand wat 1,61m kort is!

APSSA, DPSSA

FPSSA, DPSSA(vers)

My liefde vir fotografie het sowat 10 jaar terug ontwikkel en nou is daar geen terug draai nie !!

Fotografie is my passie en siels terapie wat my na ongelooflike mooi plekke in Afrika neem.
Van die wye grasvlaktes van die Serengeti, die rooi duine van die Kgalagadi, die wonder van die Masai Mara Migrasie tot onglooflike mooie Chobe !!!

Fotografie het my verander van n stadsmens  wat versot was op die vinnige ritme van die stads lewe na iemand wat se hart hunker na die bosveldvuur met sy sterre hemel, natuur skoon en die maanlig wat dans in die Afrika nagte. 

My “gevoel” vir natuur fotografie het ontstaan as gevolg van my ingebore liefde en respek vir Afrika se natuur en diere rykdom.

Dis reeds in Botswana waar ek my onbeskryflike liefde vir olifante ontdek het. Die olifant is sonder twyfel my gunsteling dier in die skepping.

Naas Natuur fotografie het ek ook n baie sterk gevoel vir mense en kinders.
Hierdie is weer n ander tipe fotografie uitdaging om die siel van die mense vas te vang deur hul oë.

Ek is n trotse lid van AFO en PSSA sedert 2010.
Gedurende die tydperk het ek my LPSSA, APSSA(Vers), DPSSA(Vers) en FPSSA voltooi.
Ek het ook  verkeie aanvaardings, erkennings  en medaljes  op internasional vlak verwerf.


Fotografie bly  vir my n uitdaging en n leer proses. Elke keer as ek my kamera optel, bied dit vir my n nuwe geleentheid  om die tydlose oomblik vir ewig vas te vang.

Webtuiste:		https://taniacholwich.com

FPSSA, APSSA (v), DPSSA(v), EPSSA(MP), AFIAP

Ek is in 2011 deur Sybrand van Niekerk uitgenooi om ‘n AFO klubaand by te woon en vandat die eerste foto vertoon is, was ek gefassineer met klubfotografie.

In die eerste salon waarin ek as junior fotograaf ingeskryf het het ek een salon aanvaarding gekry en was in die wolke daaroor. In die volgende 12 salonne het ek egter GEEN aanvaarding gekry vir die 75 fotos wat ek altesaam ingeskryf het nie!  Die kwaliteit van my fotos was gewoon nie goed genoeg nie, het ek geleer.

Ek het sederdien vir myself uitdagings gestel om betrokke te raak by salon inskrywings, by beoordeling op klubvlak, op salonvlak en was ook al ‘n paar keer bevoorreg om lid te wees van die paneel van twaalf fotograwe wat PSSA honneurspanele beoordeel.

Ek het ook  sederdien ‘n fotografie diploma verwerf, want ek wou graag die tegniese aspekte van fotografie verstaan en het die volgende honeurspanele verwerf: ‘n LPSSA, twee APSSA’s, ‘n FPSSA, EPSSA, DPSSA (vers) en die internasionale AFIAP paneel vir aanvaardings in oorsese salonne.

Toe ek nog ‘n onderwyser was het een van my leerlinge, Sebastiaan Rothmann, begin boks en ek het die geleentheid bygewoon as toeskouer toe hy ‘n paar jaar later die Suid-Afrikaanse kampioen geword het. Die opwinding van topatlete wat teen mekaar deelneem het my aangegryp.en as fotograaf het ek dus later ‘n geleentheid benut om ‘n bokstoernooi af te neem. Hoewel my eerste pogings maar vrot was, het ek verdere bokstoernooie, EFC en skopboks toernooie begin bywoon en voortdurend gepoog om my tegnieke te verbeter.

Ek hou egter ook van natuurfotografie (voëls en Makro), portretfotografie en straatfotografie en om enigiets anders wat interessant is te kiek.

Ek het aan die begin van 2022 ‘n klompie lense ingeruil en ‘n Canon R6 mirrorless kamera met ‘n 100-500 RF lens saam met ‘n 2x extender aangeskaf, wat vir my groot vreugde verskaf. Dit is lig genoeg om sonder ‘n driepoot te gebruik, en op 1000 mm laat dit my toe om baie naby fotos van voëls, ens te neem, sonder al die nadele van die EF extenders terwyl dit hoë ISO – selfs 10 000 ISO en meer - baie goed hanteer.

As klubfotograaf kry mens voortdurend die geleentheid om met fotograwe wat kenners is op verskillende terreine te gesels en inligting uit te ruil.


Dirk Heyns

FPSSA, APSSA (vers), DPSSA

Ek het my eerste kamera gekoop in die 1980’s toe ek ’n student was en ek het dadelik van fotografie gehou. Dit was nog in die dae van films en dit was te duur vir my om dit voluit as stokperdjie te beoefen.
	Teen 2004 het digitale fotografie na vore begin kom en ek het ruimte op my begroting gehad om ’n Canon 300D te koop, kort daarna ook ’n 70-300mm lens, en Photoshop elements om my foto’s mee te versorg. In Januarie 2005 het ek vir die eerste keer ’n Afo-klubaand as besoeker bygewoon. My kop het gedraai van al die wonderlike foto’s wat ek gesien het en al die kommentaar wat soveel kennis oor fotografie oorgedra het. Die volgende maand het ek weer gaan kyk en Maart 2005 het ek my eerste foto’s by Afo ingeskryf. Die foto van die grootwaterhoender hieronder, was daardie aand die wenner van die eenstergroep. 
	Daar het vir my ’n wêreld oopgegaan. Ek het gevoel soos ’n vis in die water en sedertdien is fotografie ’n groot deel van my lewe. Ek vertel met vreugde vir mense dat ek 95% van alles wat ek van fotografie weet, by en deur Afo geleer het.
	Ek het veral aan die begin gewerk met toerusting wat afgesteek het teen dié van ander klublede met wie ek meegeding het. Dit het my egter nie gekeer nie. Ek het eenvoudig gewerk binne die beperkings wat my toerusting my toegelaat het en redelik vinnig deur die stergroepe gevorder. Ek het ook van baie vroeg af aan salonne begin deelneem. In 2009 was ek Afo se digitale fotograaf van die jaar. Mettertyd het ek my toerusting uitgebrei en opgegradeer, maar ’n mens sal seker nooit regtig alles van die beste hê nie. Dit ontmoedig my egter nie. Ek werk met dit wat ek het.
	Aanvanklik het ek my veral toegelê op natuurfotografie, en spesifiek voëls, maar ek het altyd ’n wyer belangstelling ook gehad. In ’n stadium het ek vir myself ’n reël gemaak dat ek elke maand by die klubbyeenkoms ten minste een foto van ’n voël moet inskryf (om getrou te bly aan my wortels) maar ook ten minste een foto wat nie ’n natuurfoto is nie (om my horisonne te verbreed). So het my belangstellings en my vaardighede uitgebrei na dinge soos makro-fotografie, landskappe, ’n bietjie sport en meer. As joernalis het foto-joernalistiek my natuurlik ook altyd getrek, hoewel dit in klubverband dikwels iets anders is as in die praktyk. Die twee panele wat ek vir my APSSA- en FPSSA-toekennings ingedien het, was egter albei natuurpanele. Die foto’s hieronder van die vlinders en die rooivlerkstreepkoppie was deel van my APSSA-paneel. Die F-paneel was spesifiek ’n paneel van natuurportrette, ’n genre wat my verbeelding aangegryp het sedert ek die eerste keer daarmee kennis gemaak het. Die foto van die luiperd was deel van daardie paneel.
	Toe ek bevorder is na die stergroep Senior Meester Brons, het ek besluit om in dié stergroep net monochroom-foto’s in te skryf. Dit was ’n uitdaging aan myself om die medium van monochroom te probeer baasraak. Hieronder is ’n paar van my monochroomfoto’s. Een van hulle, Keeping up with Mommy, was een van die min foto’s waarmee ek nog ’n salon gewen het.
	As joernalis - in ’n mindere mate terwyl ek by Beeld was, veral in die vyf jaar dat ek redakteur van Kerkbode was, maar ook nou as vryskut - het my fotografie my handig te pas gekom. Ek verdien ’n klein bietjie inkomste daardeur, maar in wese is en bly ek ’n stokperdjiefotograaf. En dis vir my wonderlik dat my vrou, Louise, dit ook nou al sedert 2010 saam met my doen. Fotografie verskaf my verskriklik baie vreugde. Dit maak my lewe ryk. Ek verruil dit vir niks in die wêreld nie.

FPSSA, DPSSA

André Ligthelm is 'n spesialis natuurfotograaf. Sy kenmerkende styl is diere- en voëlgedrag in natuurlike habitat met so min as moontlik omliggende obstruksie om die hoofaktiwiteit te aksentueer. Dit skep die gevoel van minimalisme, eenvoudige beeldontwerp en beweging/dinamika met kenmerkende tegniese vaardighede. Addisioneel tot die voorbereiding van beelde vir AFO, salonne en ander kompetisies, is hy ook besig met die fotografiese dokumentering van SuiderAfrikaanse diere en voëls.
Komplimentêr tot voël en diere fotografie, het hy ook groot belangstelling in makro- en landskapsfotografie. Alhoewel hy hoofsaaklik in kleur werk, bied sekere beelde uistekende geleenthede vir monochroom verwerking.
Sy belangstelling in natuurfotografie het reeds in sy laerskool jare ontstaan, tydens hullle talle familiebesoeke aan die Krugerwildtuin wat toe nog slegs grondpaaie, basiese fasiliteite en min besoekers gehad het. Hedendaags is André en Annette se voorkeur destinasies die Etosha, Kgalagadi en die talle natuurgebiede in Botswana. Natuurgebiede met min mense en verkeer en slegs basiese geriewe bied nie net dieper natuurbelewenisse nie, maar ook meer unieke fotografiese geleenthede.
André het verskeie fotografiese toekennings ontvang wat onder andere die volgende insluit: APSSA in skyfies, APSSA in digitaal en FPSSA (HD) digitaal. Hy het ook sy DPSSA verwerf met sy meer as 1 100 salonaanvaardings. Benewens al sy salonaanvaardings, het hy ook verskeie medaljes en COM's by Nasionale en Internasionale salonne verwerf. Verskeie van sy beelde is in boeke en tydskrifte gepubliseer. Hy het ook al verskeie kere die PSA (Photographic Society of America) Honourable Mentions ontvang vir sy Internasionale salonaanvaardings asook plasings in die AGFA Wildlife Awards. AFO het ook in 2005 'n trofee aan André toegeken vir "Uitnemende Diens aan AFO en Fotografie" 
André het in 1986 by AFO aangesluit en is dus reeds 34 jaar lid van AFO. Hy het vir 10 jaar op die AFO-bestuur as penningmeester gedien. Gedurende die tyd het AFO se bevorderingsklasse verander van die oorspronklike vier klasse (Beginners, Intermediêr, Gevorderd en Meesters) na die huidige vyf ster- en drie meestersklasse.

FPSSA, EPSSA

FOTOGRAFIE CV 
ANNETTE LIGTHELM
FPSSA, DPSSA

Annette het ‘n groot liefde en waardering vir die natuur en die omgewing.  Dit dien as inspirasie vir die beelding van die skoonheid en uniekheid van die Skepping.  Voël- en wildlewefotografie is haar voorkeur onderwerpe.  
Aanvullend tot natuurfotografie bied die besoeke aan natuurgebiede ook vir haar geleenthede vir  makro- en landskapsfotografie.  Haar en André se voorkeur destinasies is die semi-woestyn gebiede van Suid-Afrika, Namibië en Botswana.  
Alhoewel sy hoofsaaklik in kleur werk, bied die beelde wat sterk kontraste en lyne toon, ideale geleenthede vir  monochroomverwerking.  
Haar werk reflekteer nie net ‘n harmonieuse binding van die tegniese aspekte van ‘n beeld soos beligting, komposisie en kleur nie, maar lê veral klem op die skepping van beelde wat skoonheid en dinamiese beweging in die natuur ontsluit.
Haar beelde het ook baie impak wat geskep word deur die gebruik van kontraste in kleur, patrone en lig met ‘n sterk fokuspunt wat veral beweging en aksie van voëls en diere uitlig.  ‘n Belangrike kenmerk van haar beelde is ook minimum obstruksie van omliggende onderwerpe waardeur die hoofonderwerp en aktiwiteit sterk geaksentueer word.
Benewens meer as ‘n duisend nasionale en internasionale salonaanvaardings, wat talle medaljes en COM’s insluit,  het sy ook al die Predicate Wisseltrofee vir die meeste digitale jaarpunte by AFO in 2017 en 2019 ontvang.  Sy het reeds haar APSSA en FPSSA (digitaal) asook DPSSA verwerf.   Annette  het ook die PSSA Impala Trofee (goue medalje) vir die meeste salonpunte in die Natuurafdeling (2018) van PSSA ontvang.   Sy verwerf ‘n tweede plek by AFO met die Legardo Photography toekenning van die PSSA Impala Trofee in 2019.  Die verwerwing van die PSSA Impala Trofee word in die algemeen as ‘n besondere prestasie beskou.  In 2020 ontvang Annette die Koos Delport Wisseltrofee as die Fotograaf van die Jaar.  Daarmee saam ontvang sy ook die GGF Venter Wisseltrofee, toegeken vir die meeste digitale salonpunte (AFO, 2020), asook die Predicate Wisseltrofee, toegeken vir die meeste digitale jaarpunte (AFO, 2020).
Annette het in Januarie 2004 by AFO aangesluit en is dus reeds meer as vyftien jaar lid van die klub en die eerste dame in die geskiedenis van AFO wat die Senior Meester afdeling bereik.

LPSSA, DPSSA

My fotografieloopbaan het meer as 50 jaar gelede in my pa, Louis se donkerkamer begin. Ek het by hom geleer hoe om negatiewe te ontwikkel en foto’s te druk. Ek was ongeveer 13 jaar oud toe ek my eerste AFO-maandvergadering bygewoon het. Destyds was die voorsitter oom Deon van der Westhuizen en ons het in die Pretoria Tegniese Kollege vergader. Die vergaderings was baie langdradig en uitgerek vir my jong gemoed. Dit het begin deur jou foto’s te oorhandig vir beoordeling. Die bestuurslede het die afdrukke en die enkele kleurskyfies gerangskik in een of ander volgorde.

Die eerste vier fotos in die eerste gallery hieronder is ’n paar van my AFO inskrywings van meer as 50 jaar gelede. Let op die naam soos dit op die skyfies aangebring is.

Die volgende stap was ‘n lesing en dan het die beoordeling begin. ’n Foto is beoordeel as goud, silwer, brons of geen toekenning. Ons het nooit voor elfuur in die aand huistoe gery nie. Later het my pa voorsitter geword en ek het self by AFO aangesluit. My fotografie het verbeter en ek het selfs by salonne ingeskryf. Op ’n dag het ’n foto wat ek ingeskryf het ’n merietesertifikaat by ’n salon gewen. Die foto het ’n hoender in ’n outydse plaasoond uitgebeeld. Ek het in die donkerkamer ’n ligte derivasie daarvan gemaak en die twee skyfies bo-op mekaar gemonteer. Die titel van die skyfie was natuurlik “Bakhoender” – sien die vyfde foto in die gallery hieronder.

Destyds was my prestasie groot nuus. Salonne was nie so volop soos vandag nie en vir ’n jong skoolseun om ’n merietesertifikaat te wen was uitsonderlik. Ek en my pa is na die salon se prysuitdelingsfunksie genooi. Dit het plaasgevind in die beroemde Carltonsentrum. Na die tyd het ons in die spoggerige restaurant heel bo op die hotel gaan eet, met das en baadjie natuurlik. 

By my skool, die Hoërskool Menlopark, het ek ook aan die fotografieklub se bedrywighede deelgeneem en ons het ons strafste mededingers, die Afrikaans Hoër Seunskool, lekker uitgestof. Só het ons gesigte ook in die Hoofstad koerant beland – sien asseblief die sesde foto in die eerste gallery hieronder. Vir dieselfde koerant het ek later as deeltydse fotograaf en koerantman gaan werk. Elke week moes ek foto’s (swart en wit) ontwikkel en druk.

In 2014 het ek weer by AFO aangesluit en my ou stokperdjie baie ernstig begin beoefen. Ek het ook my vrou, Ingrid, aangemoedig om deel te neem en vandag is sy eintlik ’n beter fotograaf as ek. Ons konsentreer op wildlewe, maar waag dit af en toe ook op die veld van landskappe, menslike portrette en fotojoernalistiek. Ek het ook sopas met makrofotografie begin eksperimenteer.

Fotografie is vandag baie anders as 50 jaar gelede, maar ook in baie opsigte presies dieselfde. Die wedywering tussen fotograwe is net so intens soos destyds en die klagtes oor beoordeling ook. 
Fotografie is eintlik ’n metafoor van die lewe self. Dit lyk heeltemal anders van binne as van buite. Eers as jy die lewe deur ’n lens aanskou sien jy werklik wat dit behels. Wanneer jy daarmee begin lyk alles maklik, maar hoe meer jy leer hoe meer ontdek jy die kompleksiteit daarvan. En hoe dieper jy daarin betrokke raak hoe meer sien jy die waarde en skoonheid daarvan raak. Mettertyd leer jy meer en vind jy uit hoe min jy regtig weet. Uiteindelik staan jy net verstom oor die prag van ’n mooi foto en die kuns van die fotograaf, soos ons uiteindelik met gelate verwondering voor die skepping en die Skepper staan.

FPSSA, DPSSA

Hennie Niemand  FPSSA DPSSA
 Ek het  in die laat tagterjare aktief begin belangstel in fotografie.
In 1990 het ek by AFO aangesluit en daar geleer hoe om werklik goeie fotos te neem.
In 1992 is ek bevorder to ‘n meester en het ‘n paar jaar later ‘n FPSSA verwerf.
Ek sedert ek by AFO aangesluit het, met enkele uitsonderings, by elke klubaand fotos ingeskryf en aan plaaslike salonne deelgeneem. Toe dit nog bekostigbaar was, het ek ook by internasionale salonne ingeskryf.
Ek weet nie presies hoeveel salonaannames ek het nie, want ek het na 1500 opgehou om dit aan te teken. Salonwenners was nog nooit vir my beskore nie, maar was darem hoog in my skik met ‘n 2de plek.
Ek het nie einlik aan fotokompetisies deelgeneem nie, maar het in 1979 en 1989 aan die Agfa Wildlife and Environmental Awards kompetisie deelgeneem en was elke keer onder die top 50 en eenkeer 3de. Dit is later vervang met die Fujifilm Getaway Wildlife and Environmental Photo Awards, waar ek onder die kategorie insekte en reptiele ‘n toekenning verwerf het.
Ek kry net tyd om gedurende my vakansies aktief fotos te neem. Die oorsaak hiervan is dat ek begin spesialiseer het in natuurfotografie (diere, plante, insekte en natuurlandskappe). My geliefde bestemmings is die Kgalagadi (Mabuashehube), Etosha in Namibië en Hwange in Zimbabwe.

FPSSA, DPSSA(cls)

DPSSA (mono+cls)

LPSSA (kleur, afdrukke), DPSSA

Ek neem al van jongsaf foto’s en dit bly ‘n stokperdjie waarvoor ek baie lief is.
Ek is opgelei as ‘n radiografis, waar dit my werk was om x-straal foto’s te neem. Hierdie keer was dit van die menslike liggaam. Ek glo dat die fotografie-lus in my werk maar ook in my stokperdjie was.
Gelukkig kon ek dikwels oorsee foto’s neem. Ons het in 1975 vir 4 jaar in Brasilia, Brasiliё, gebly en daarna vir ‘n jaar in Austin, Texas. Ons dogter bly in Engeland en ons seun in New Zealand. Daar is dus gereeld geleenthede om na ander lande te reis.
My groot liefde in fotografie is landskappe en argitektuur.
Ek is al baie lank lid van AFO. Cor Rademeyer was voorsitter toe ek aangesluit het. Ek het ook die stryd beleef toe die ou lede niks van digitaal wou weet nie. Ons kon destyds skyfies en afdrukke inskryf. Ek het begin met kleur afdrukke en volgehou tot ek Meester behaal het. Kort daarna het AFO opgehou om afdrukke te beoordeel. Ek het daarna digitale inskrywings gedoen. AFO beteken so baie vir die lede. Dis verblydend om al die nuwe lede te sien wat aansluit.
bottom of page