top of page

Goue Meester  CV en galery

DELPORT, Koos

MPSSA, FPSSA, APSSA(vers), EPSSA(Cls), AFIAP

21

Koos Delport is sekerlik die mees begaafde fotograaf wat tot nog toe lid van AFO is (hy het Ere lewenslange lidmaatskap van AFO). Hy is ‘n fynproewer fotograaf wat hom hoofsaaklik op natuurfotografie toegespits het en wat ook die hoogste PSSA Ere-toekenning, naamlik MPSSA ontvang het. (Daar is slegs enkele lede van PSSA wat die MPSSA toekenning verwerf het). Hy het die volgende Ere- toekennings ontvang:
• APSSA monochroom afdrukke
• APSSA kleurskyfies
• APSSA digitaal
• APSSA (vers)
• FPSSA kleurskyfies
• FPSSA digitaal
• MPSSA
• EPSSA (Cls)
• AFIAP (International Federation of Photographic Art)
• Die 5*(nature) toekenning is ook aan hom deur APS (American Photographic Society) toegeken.
In 1985 het Koos ook die AGFA Photo Award verower en is as die beste natuurfotograaf in Suid-Afrika aangewys. Een van sy bekendste fotos, naamlik “Chasing cheetah”, het nie net baie dollars ingebring nie, maar hang tans nog na dekades in skilderyformaat, in die kantoor van die Parkhoof van die Kgalagadi Oorgrenspark in Twee Rivieren.
Koos was vir 55 jaar by klubfotografie betrokke, waarvan 36 jaar by AFO was. Hy het in 1956 by die Sandrivier Kamera Klub aangesluit en met hulle verhuising na Pretoria het hy in September 1974 by AFO aangesluit. Hy is in 1975 vir die eerste keer op die AFO-bestuur verkies. Hy was vir ses jaar voorsitter van AFO, naamlik van 1982 tot 1984 en weer van 1985 tot 1987. In 1984, 1986 en 1988 was hy ook voorsiter van die eerste drie salonne wat AFO aangebied het. Die volgende AFO ere-titels is ook aan Koos toegeken, naamlik, Ere-meester, Ere-lewenslange lidmaatskap van AFO en Goue diensmedaljes. Hy was ook die eerste AFO lid wat Groot Meester geword en tot die hoogste vlak in AFO, naamlik Groot Meester Diamant, gevorder het.
Koos was ook baie betrokke by PSSA se aktiwiteite. Hy het drie PSSA kongresse georganiseer, naamlik twee in Twee Rivieren in die Kgalagadi Oorgrenspark en een by die Allemanskraaldam in die Vrystaat. Hy het verskeie lesings, werkswinkels en opleidingsessies vir PSSA aangebied. Dit het veral oor natuurfotografie gehandel. Hy het verskeie natuurgebiede in Suider-Afrika besoek. Sy gunsteling wildtuin was die Kgalagadi Oorgrenspark. Sedert sy eerste besoek aan die Park in 1962 het sy aantrekking tot en hunkering na die Kalahari nooit uitgedoof nie en hy het die Park sedert sy eerste besoek min of meer twee keer per jaar vir ongeveer 20 jaar besoek. Van sy ander gunsteling bestemmings was die Etosha asook Moremi, Savuti, Chobe, Central Kalahari Game Reserve en die Gorongosa in Mosambiek.
Koos Delport is voorwaar ‘n ware Groot Meester wat nie net diep spore in die fotografie omgewing getrap het nie, maar ook ‘n navolgenswaardige voorbeeld by AFO agter laat!

© Kopiereg op alle beelde
bottom of page