top of page

Goue Meester  CV en galery

RADEMEYER, Cor

APSSA

54

My belangstelling in fotografie het begin toe my Pa ‘n kamera gekoop het waarvan die lens gefokus moes word deur twee beelde oormekaar te sinkroniseer. Die afstand tussen die fotograaf en die bvoorwerp kon dan van ‘n skaal op die lens afgelees word – dit het my gefasinieer. Op skool het ek ‘n Halina kamera gehad en kon darem sowat 2 skyfiefilms per jaar neem! Tydens my student jare het ek geleer om swart en wit films te ontwikkel en ek het dan fotos gemaak in die badkamer van die koshuis. Na my studentejare het ek by AFO aangesluit. Louis Marais was die voorsitter en die byeenkomste in gehou by die destydse Tegniese Kollege in Kerkstraat. Koos Deloprt en Louis Knobel was aktiewe lede. Ek het die voorreg gehad om saam met Oom Louis Knobel en 4 ander persone in sentrale Kalahari in Botswana in te trek met ‘n bakkie en Land Rover, 44 gallon drom water, rol wors en ‘n sak meel. Hier het ons fotos van troppe Rooi hartebeeste, Springbokke en Leeus geneem en kon Boesmans fotografeer. Die ervaring het my belangstelling in fotografie gevestig. Na ongeveer 2 jaar het ek uitgetree uit AFO en my toegespits op verdere studie en navorsing in die Chemie veld. Gedurende 1990 het ek weer by AFO aangesluit. Willem Botha was voorsitter en ek het die jaar daarna op die bestuur gedien as die Korrel beampte. Peter Bellingham en myself het Korrel elke maand saamgestel en afgerol en dan gepos na die lede. Later was ek redakteur. Gedurende hierdie tyd het my belangstelling in natuur fotografie gekonsentreer op beide landskappe en fauna. Na elke besoek aan Namibia, die Kalahari en ander natuurparke het hierdie belangstelling gegroei. Ek het ook donkerkamer ingerig en baie aangename ure daarin deurgebring. Weens my chemie agtergrond het ek baie ge-eksperimenteer met die samestelling van oplossings wat in ‘n donkerkamer gebruik word. Die fikseerder reuk van ‘n donkerkamer sal altyd ‘n aangename herindering wees. Jare later toe die digitale era in volle swaai was en ek my donkerkamer moes tot niet maak, wou niemand die toerusting koop nie – niemand wou dit eers gratis gehad het nie! Ek het ongeveer van 1992 tot 2009 op die Bestuur gedien oa as onder-voorsitter en drie jaar as voorsitter. Die eerste salon in SA wat ‘n kleur brosjure uitgegee het was die 1996 AFO salon waarvan ek direkteur was. Tydens my tweede tydperk as voorsitter het die verspreiding van Korrel ‘n probleem begin word beide finansieel en fisies. Toenemende hoeveelheid lede het begin om epos te gebruik. Die bestuur het gevolglik besluit om Korrel te versprei in die vorm van ‘n epos boodskap. Die besluit was nie gewild by sommige van die lede nie. Dit is jare later deur die webwerf vervang. Deur die jare was ek ‘n gereelde beoordeelaar by ander fotografieklubs, betrokke by PSSA as Noord-Gauteng se Direkteur en lid van die Uitvoerende Komitee. Verder het ek saam met wonderlike persone op die bestuur van AFO gedien en vriende geword met baie lede. Van my beste vriende was AFO lede. In 2007 is die AFO Goue Diensmedalje aan my toegeken. In 2009 is Lewenslange Lidmaatskap aan my toegeken. Gedurende 2020 het ek die vlak van Groot Meester bereik – die derde person wat dit by AFO kon behaal.

© Kopiereg op alle beelde
bottom of page